Dierbare Vriende, Komende Maandag (2011-10-10) sal ek ongelukkig nie vir u ‘n boodskappie kan stuur nie. Mag u naweek baie geseënd wees in Jesus!
Piet Smit
GOD SE KRAG TOT ONS BESKIKKING
Dit gebeur dikwels dat ons onsself vas staar teen die probleme waarmee ons te doen het, dat ons vergeet van die krag van God tot ons beskikking.
So is die dienskneg van Elisa die môre vroeg op, moontlik om te gaan water skep om ‘n drink dingetjie aanmekaar te slaan vir hom en sy heer. Maar toe hy by die stadsmuur kom en oor die vlaktes tuur, sien hy dat die stad is omsingel met die perde en strydwaens van die Arameërs. Wat ‘n ontnugtering en skok op die man se nugter maag na ‘n nag se slaap! Hy is nog nie behoorlik wakker nie en nou moet hy die dood in die gesig staar! Hy’t seker net daar omgevlieg, die wateremmer gelos en holderstebolder die nuus aan Elisa gaan oorvertel (2 Kon. 6:15): “Ag, my heer, hoe sal ons maak?”
Maar Elisa wat deur die Gees wandel, was op ‘n ander vlak as die dienskneg en het geweet, God is met Hom met al Sy mag en krag. Hy’s nie eens ontsteld oor die nuus van die dienaar nie, want hoor hoe antwoord hy die ontstelde en uitasem gehardloopde dienskneg (2 Kon. 6:16): “Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is.”
Elisa gaan nog ‘n stappie verder en bid die volgende gebed vir sy bevreesde dienaar (vers 17): “HERE, open tog sy oë, dat hy kan sien.” Hy bid nie hierdie gebed vir homself nie, want sy oë was reeds geopen om in die geestelike realm te sien.
Die Here verhoor die gebed van Elisa en wat ‘n heerlike openbaring nie alleen vir die dienaar van Elisa op die stadsmuur van Dotan (vers13) nie, maar ook vir my en jou vandag wat die slegte omstandighede in die oë moet kyk (2 Kon. 6:17): “En die HERE het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elísa.”
Dis so wonderlik om te weet dat God se engele ordes is om ons om ons te beskerm. Heb. 1:14 sê: “Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?” Dis vir my ‘n openbaring dat presies wat die vyand het, het God ook – net beter! Die Arameërs het perde en strydwaens gehad. Die dienaar met geopende oë sien God se perde en waens, maar God s’n oortref die vyand se perde en waens, want die Here s’n was van vuur!
GEBED
Here ek dank U; wat die vyand ook al vandag teen my wil gebruik, U wapens is groter, beter en sterker! Amen!PietSmit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook



