@ at Malmesbury Business Directory

at-malmesbury-business-directory-logo

search-google 

Genadig is die Here

02-god-van-baie-kanse
GENADIG IS DIE HERE
Luk. 24:34 – “Die Here het waarlik opgestaan en het aan Simon verskyn.”
Nadat die vreemdeling wat met die Ammausgangers saam geloop het Homself as Jesus geopenbaar het,

het hulle teruggekeer na Jerusalem om vir die oorblywende elf dissipels te gaan vertel wat gebeur het. Daar aangekom vind hulle die oorblywende elf dissipels nie meer in twyfel oor die opstanding van Jesus nie, want hulle groet die twee manne van Emmaus met hierdie woorde: “Die Here het waarlik opgestaan en het aan Simon verskyn.”Dat die Here Jesus genadig en groot van liefderike trou is, is inderdaad so! Hier verskyn Hy eerste van al die ander dissipels, aan die een wat Hom ‘n paar dae vantevore verloën het. Ook Paulus bevestig hierdie buitengewone verskyning van Jesus aan Petrus voor al die ander dissipels in 1 Kor. 15:5 – “En dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf.”

Die een wat drie keer ontken het dat hy vir Jesus ken uit vrees dat hy nie ook tereggestel sou word nie:

  • Luk. 22:57 – “Vrou, ek ken Hom nie.”
  • Luk. 22:58 – “Man, ek is nie.”
  • Luk. 22:60 – “Man, ek weet nie wat jy sê nie.”

Volgens Markus se beskrywing was die derde verloëning in die sterkste taal sodat die 1983 Afrikaanse vertaling dit soos volg weergee (Mark. 14:71): “Toe begin hy vloek, en hy sweer: ‘Daardie man van wie julle praat, ken ek nie.’"

Iemand sal opmerk en sê: “Wat! ‘n man wat Jesus drie keer verloën het en by dit ook nog vloek! Dis mos ‘n onbekeerde man!”

Dat Jesus vir hierdie verloëner en “onbekeerde man” opsoek en ongekende genade bewys en dit voordat Hy aan enige van die ander dissipels verskyn – dis wonder genade uit die hemel! Met die doel om Hom te vertroos onder sy groot droefheid, bedruktheid, selfbejammering en selfveragting dat hy in ‘n oomblik van swakheid Sy Here verloën het en soos ‘n onbekeerde opgetree het.

Het jy geweet Petrus se verhaal herhaal homself elke dag in my en in jou lewe? Ja, ek en jy kom so dikwels nét dieselfde oor! Ons is net so oorverseker voor die tyd: “Here dit sal ek nooit oorkom nie ...” En dan later, heelwat later, staan ons verslae en bedremmeld net soos Petrus. “Ai, Here wat het ek tog aangevang!”So wonderlik om vandag vir jou te vertel, dat die res van die verhaal herhaal homself ook. Jesus, stoot jou nie weg nie. Net soos vir Petrus, kom soek Hy my en jou óók op; verskyn Hy aan my en aan jou om ons te vertroos en te herstel!

Kniel by die kruis! Lê by Sy voete, nou weer tuis!

Piet Smit 

073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

You are here: Church Genadig is die Here
schoemans-chartered-accountants die-courant