@ at Malmesbury Business Directory

at-malmesbury-business-directory-logo

search-google 

Genade-mens of presteer-mens?

02-god-van-baie-kanse
GENADE-MENS OF PRESTEER-MENS? (1) - (8)
1 Kor. 15:10 – “Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is.”
Ek gesels met jou oor twee soorte mense: ‘n Genade-mens en ‘n presteer-mens.

GENADE-MENS

Dis die mens wat ervaar het wat Efe. 2:8, 9 sê:

Efe. 2:8 – “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;”

Efe. 2:9 – “nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”

Dis die mens wat vergifnis by God ervaar het en vryspraak van sy sonde.

Maar alvorens hy dit kon beleef het, het hy eers onder die besef van Sy sonde voor God gekom: “Ek is ‘n verlore sondaar. Ek verdien om verlore of hel toe te gaan! Ja, ek ís ook op pad na die verdoemenis!”

Maar dan kom God en Hy red daardie persoon uit genade. Die Here bied hom ‘n vry geskenk aan asof op ‘n skinkbord en al wat die persoon moet doen is om dit net te neem.

Dis die mens wat besef: Alles wat ek het, en alles wat ek is, en alles wat ek ooit sal wees, is maar net die Here se genade. God se onverdiende guns. Soos die bedelaar wat daar by die dorp se poskantoor op die hoek van die straat sit en bedel. Hy kan op niks aanspraak maak nie. Hy’t nie vir iets gewerk nie, maar hy ontvang wat mense daar vir hom ingooi. Hy’t nie betaal nie, maar hy ontvang! Hy het dit nie verdien nie, maar hy ontvang.

Soos ‘n moordenaar wat ter dood veroordeel is. Maar dan kom die staatshoof van die land op ‘n goeie dag en begenadig hom en hy ontvang vryspraak en word vrygelaat.

GEBED

Hemelse Vader, maak tog aan my duidelik, so duidelik soos die helder son wat daar buitekant skyn, wat is genade. Wat is U genade vir ‘n sondaar in Christus. Wat is dit om vergifnis en vryspraak te ontvang, op grond van geloof in Christus se kruis dood vir my. Ek bid dit in Jesus se Naam. Amen!

Piet Smit 

073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

GENADE-MENS OF PRESTEER-MENS? (2)

1 Kor. 15:10 – “Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is.”

Wat is die gevolge as ‘n mens genade by God in sy Seun Jesus ontvang het?

‘N DANKBARE MENS

Dit maak van jou ‘n dankbare mens. Jou oë gaan oop in die besef, alles is God s’n. Alles is jou geleen.

In 1 Kor. 4:7 word die vraag gestel: “Wat het jy wat jy nie ontvang het nie …?
  • Jou talente kom van God af.
  • Jou vermoeëns kom van God af.
  • Al jou besittings en eiendom kom van die Here af.

Moenie sê: “Ék het daarvoor gewerk!” Jy kon ‘n invalide gewees het. Jy kon gestrem gewees het. Jy kon werkloos gewees het.

‘n Dankbare mense het net voorregte en nie regte nie.

‘n Genade-mens is ‘n mens wat ‘n diepe waardering teenoor die Here ervaar vir alles in Sy lewe. Benewens die geestelike dinge is hy of sy net so dankbaar vir die materiële dinge in sy of haar lewe. As jy kan opstaan op ‘n Sondagoggend en kerk toe gaan is jy 1 van die 10% in S.A. wat die kerk haal op ‘n Sondag. Die ander inwoners van ons land het een of ander swak verskoning of pyn of swak gewoonte of ‘n “iets” of geen begeerte om die Hee te gaan dien saam met sy geestelike familie nie. As jy ‘n motor besit is jy ook deel van die wêreld se 10% wat as ryk bestempel word uit ‘n wëreld bevolking van 6 biljoen waarvan die helfte basies in hongersnood leef. Ek vra: Is jy bewus dat jy deel is van  ‘n hoogs bevoorregte en uitsonderlike groepie mense?

Ek lees dat in Somalië twee en ‘n halfmiljoen mense besig is om te sterf aan honger. Lotsgebonde mense wat daar gebore is onder haglike omstandighede. ‘n Sendeling vertel dat as jy in Indië kom, dan gebeur een van drie dinge met jou:
  • Òf jy wil kwaad word.
  • Òf jy wil naar word,
  • Òf jy wil huil oor die toestand wat jy moet aanskou van intense armoede. Waar kindertjies se bene deur die ouers kleintyd gebreek word sodat hulle invalides op straat kan wees om te bedel.
I.p.v. om te vra as slegs jou tref: “Hoekom ek?” Hoekom nie ‘n slag vra, as jy kyk na die oorvloed in en om jou lewe: “Here, hoekom ek?”

GEBED

Here ek dank U uit die diepte van my hart vir vele en oorvloed in en om my lewe. Ek het niks daarvan verdien nie. Na alles is dit maar net U! Amen!

Piet Smit 

073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

GENADE-MENS OF PRESTEER-MENS? (3)

1 Kor. 15:10 – “Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is.”

GENADE VIR ANDER

Selfs vir hulle wat dit nie verdien of waardeer of dankbaar is nie. Omdat ek en jy genade ontvang het (net om daardie rede), spreek ons almal elke dag, elke oomblik vry; sewentig maal sewe keer by voorbaat onvoorwaardelik.

Iemand mag vra: “Hoe op dees aarde kry ‘n mens dit reg?”

Dis slegs moontlik wanneer ‘n mens besef:

  • Ek was God ‘n R100 000 miljoen skuldig. Maar die Here het my dit alles vrygeskeld!
  • Ek was die doodstraf skuldig, maar die Here het my vrygespreek!
Dan loop ‘n mens as’t ware oor en is jy opgeskeep met genade vir ander. Jy wil dit uitstrooi soos saad uit ‘n saaisak: “Genade vir jou my broer! Genade vir jou my suster! Waar kan ek nog genade, barmhartigheid, vryspraak en liefde bewys? Want ek is ander se skuldenaar!”

Die Bybel sê dit in soveel woorde:

  • Rom 1:14 – “Teenoor Grieke sowel as nie Grieke, teenoor wyse sowel as onverstandige mense is ek ‘n skuldenaar.”
  • Rom. 13:8 - “Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê;”

Behalwe dat jy genade het vir ander, het jy ook genade vir jouself. Sovele is so hard op hulself en kan hulleself nie vergewe as hulle ‘n fout gemaak het nie. As jy met dit sukkel; besef maar net altyd, God het jou vrygespreek in Chistus, dus moet jy ook vryspreek die wat die Here vrygespreek het.

GEBED

Here Jesus, laat die besef van U groot vergifnis oor my lewe my daartoe noop om genade en vryspraak vir ander te hê en ook vir myself. Amen!

Piet Smit 

073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

GENADE-MENS OF PRESTEER-MENS? (4)

1 Kor. 15:10 – “Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is.”

GENADE VIR ANDER (vervolg)

Peter Miller was ‘n gewone pastoor van ‘n klein plattelandse dorpie in Ephrata in die Amerikaanse staat Pennsylvania in die dae van president George Washington en die Revolusionêre oorloë.

‘n Man met die naam van Michael Wittman ook van Ephrata, het uit sy pad gegaan om die lewe vir past. Peter Miller moeilik en ondraaglik te maak. Hy het al wat skinder storie oor die pastoor versprei. Hy het selfs eendag die pastoor te lyf gegaan.

Later word daar ontdek dat Michael Wittman ‘n verraaier van die regering is. Hy is verhoor en ter dood veroordeel.

Toe stap past. Peter Miller 70 myl (nagenoeg 112 km) te voet na die woning van president George Washington om te gaan pleit vir die lewe van Michael Wittman.

Die president se reaksie was soos volg: “Die versoek vir u vriend kan nie toegestaan word nie.”

“My vriend! Roep die pastoor onthuts uit. “Hy’s nie my vriend nie, hy’s my grootste vyand!”

“Wat!? Wil jy vir my sê, jy het 70 myl gestap om te kom pleit vir jou vyand?!”

Dit het so ‘n indruk op president George Washington gehad dat hy vir Michael Wittman begenadig het en hom vrygelaat het.

Wanneer jy genade van God ontvang het, het jy ook genade vir ander en selfs vir hulle wat dit nie eens verdien nie ...

GEBED

Help my Here Jesus om genade te hê vir hulle wat dit nie eens verdien nie. Amen.

Piet Smit 

073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

GENADE MENS OF PRESTEER MENS? (5)

1 Kor. 15:10 – “Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is.”

NEDERIG

Net om weer die verband te kry waarmee ons besig is:

Ons praat oor die vraag: Is jy ‘n genade-mens of ‘n presteer-mens? Ek het begin om te sê wat is ’n genade-mens. Dis iemand wat genade by God ontvang het in dat God hom al sy sonde vergewe en vrygeskeld het in Christus. En dan as gevolg van hierdie groot genade daad is daar sekere gevolge in sy lewe by die besef van hierdie groot weldaad van God aan hom.

Daar ontspring ‘n geweldige nederigheid in sy hart, want sy oë gaan oop vir die feit dat alles wat hy hét en alles wat hy ís en selfs wat hy ooit sal wees, is aan Christus te danke! Ek vra: Het jy al tot hierdie ontdekking gekom?

Die tweede gedeelte van 1 Kor. 4:7 stel dit soos volg: “En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?

Die lidmate van die vroeë Korinthiër gemeente het gedink hulle kon spog met hul geestelike gawes wat hulle bedien het. Maar dan kom Paulus en sê vir hulle: “Nee, my ou maat; dis alles aan Christus te danke dat jy kan profeteer, in tale praat, dit uitlê en bid vir die siekes ens.” Inderdaad het ons alles ontvang en aan Christus te danke. As jy dan wil roem, volg Paulus se voorbeeld (Gal 6:14): “Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.”

So ‘n mens (wat nederig is), sal altyd ander eerste om verskoning vra. Ek het destyds ‘n artikel in die Pinkterboodskapper gelees wat ‘n blywende indruk op my gelaat het: “As daar ‘n rusie tussen twee mense ontstaan, sal die persoon wat die naaste aan Christus is, altyd eerste die ander persoon om verskoning vra.”

Nét die nederige of die genade-mens kan dit doen! Die hoogmoedige sal eerder sterf voordat hy sal gaan buig en ‘n ander om verskoning of vergifnis vra.

Het jy ‘n nederige hart bekom, omdat jy genade in Christus ontvang het?

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

GENADE-MENS OF PRESTEER-MENS? (6)

1 Kor. 15:10 – “Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is.”

DIE PRESTEER-MENS

Dis die mens wat meen dat sy goeie ouers, sy kultuur, sy agtergrond, sy eie prestasies, regverdige lewe (en daar is die wat jou waarlik so “stupid” is om te meen dat hulle vel kleur) verdien vir hulle ‘n plek in die hemel! Gevolglik is diegene se eienskappe net mooi die teenoorgestelde as die genade-mens s’n.

In plaas van dankbaarheid is daar:

ONDANKBAARHEID

Diesulkes meen hulle verdien alles in die lewe. Ja, die wêreld en die lewe skuld hulle iets. Ander skuld hulle altyd iets.

Hulle ken nie die woordjie “asseblief” nie. Dis soos toe ons destyds in die weermag was en ‘n instrukteurs kursus gedoen het. Daar is toe aan ons geleer: “Jy vra nie asseblief nie. Jy gee slegs bevele!”

Die ondankbare presteer-mens staan altyd op sy regte. Hy of sy is net altyd te kort gedoen en ander het hom of haar net altyd iewers te na gekom.

Hy of sy is ondankbaar teenoor sy vrou of man, kinders, skool en die staat. Die staat en die skool en genoemde persone het net nooit genoeg vir hom of haar gedoen nie. Ook by die kerk word hy of sy altyd te kort gedoen.

My vriend by ‘n top restourant vertel my: “Sekere mense is net altyd maar ontevrede. Jy ken hulle later. Daar is net altyd ‘n fout met die kos of met iets moet hulle fout vind.”

So jammer dat diesulkes kan hulleself nie sien vir wat hulle is nie. Ander sien dit raak en as hulle gelowiges is, is dit tot oneer van die Koninkryk van God.

GEBED

Ag liewe Here, ek raak skoon skaam vir sulke ondankbaarheid. Verlos my van enige ondankbaarheid sodat dit nie ‘n steen des aan stoots vir ander word nie. Amen!

Piet Smit 

073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

GENADE-MENS OF PRESTEER-MENS? (7)

1 Kor. 15:10 – “Maar deur die genade van God is ek wat ek is,”

DIE PRESTEER-MENS (vervolg)

GEEN GENADE VIR ANDER NIE

So ‘n persoon het geen genade vir ander nie, omdat hy of sy nog nooit genade in Christus ontvang het nie. Gevolglik stel hy of sy voortdurend eise aan andere. Almal moet volgens sy of haar meriete, standaarde en voorskrifte presteer. Hy of sy meen hulle het die reg om ander te oordeel, te meet en te veroordeel.

Almal moet op sy of haar skaal van waardes geplaas word en indien ander nie daardie toets slaag nie, is hulle onaanvaarbaar vir hom of haar.

Die presteer-mens meet gewoonlik ander aan uiterlike prestasies:

  • Hoeveel geld die ander persoon het;
  • Die tipe motor waarmee ander ry;
  • Die kleredag en
  • Die geleerdheid van andere.
Voldoen ander nie daaraan nie, is hulle nie in sy of haar klas nie en meng hulle nie met die ander benede hulle stand nie.

Lees gerus Mat. 5:44-48. Ek haal net vers 46 en 47 aan:

“As julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie. En as julle net jul broeders groet, wat besonders doen julle dan? Doen die tollenaars nie ook so nie?

Jesus praat van heiden-liefde en heiden-genade, waar mense net meng met dié in hulle klas. Nee, ons as mense wat genade in Christus ontvang het, moet almal dieselfde ag.

Wee die stomme kinders wat sulke ouers het (presteer-mens gesindheid). Sy kinders móét eerste staan in die klas. As sy kind hardloop, móét dit altyd die vinnigste wees. As jy kind aan ‘n spring item deelneem, móét dit altyd die hoogste of verste wees. Of aan ‘n gooi item deelneem, móét dit die verste wees. Sy kinders móét presteer om by hom of haar aanvaar te word – stomme kinders!

So terloops, op hierdie manier word die verkeerde Godsbeeld ook aan die kind oorgedra. Kinders dink later hulle móét ook presteer en met werke God behaag om by Hom aanvaarbaar te wees vir die hemel.

GEBED

Here, omdat ek begenadig is in U geliefde Seun, Jesus Christus, het ek ook genade vir ander en vir my kinders. Amen.

Piet Smit 

073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

GENADE-MENS OF PRESTEER-MENS? (8)

1 Kor. 15:10 – “Maar deur die genade van God is ek wat ek is,”

DIE PRESTEER-MENS (vervolg)

HOOGMOEDIG

Sulke mense maak nooit ‘n fout nie (Dis nou volgens hulle uitkyk in die lewe.). Hulle is ook te trots om ander om verskoning te vra, al is hulle ook verkeerd. Dis ook vir hulle die swaarste ding op aarde om ander wat teen hulle oortree het, vergifnis te skenk. Die rede? Hulle het self nog nooit vergifnis by God ontvang nie.

  • Wip hulle vir elke liewe ou dingetjie en dit kos genade om hulle weer tot bedaring te bring.
  • Die woordjie “ek” maak ‘n groot deel van die woordeskat uit.
  • Dis “lelike” mense.
  • Dis moeilike mense.
Dit kos genade vir ‘n genade-mens om met presteer-mense oor die weg te kom. Hoekom? Omdat daar so min van die genadige Here Jesus in presteer-mense se lewe is.

SLOT

Onder die Ou Testament moes die mens presteer om God te behaag. En omdat hulle dit nooit kon reg kry nie, moes hulle die regte offer op die regte tyd bring om nog steeds onvolkome voor God te staan (Heb. 7:19; 9:9).

Maar nou, na die kruis van Jesus, kan enige mens kom met geloof in Christus se soenverdienste aan die kruis en jy word vrygespreek en jy ontvang genade en staan in volkome stand voor God (2 Kor. 5:21)!

O, kyk na Jesus! Die nederige Jesus:

Vanuit die hemelse troonkamer daal Hy neer tot in ‘n stal met mis, vlooie, muise en kokkerotte. Hy loop te voet en ry op die rug van ‘n donkie. Hy was ander se voete; selfs die een wat Hom sou verraai en Hom die grusaamste dood sou besorg!

Waar mense wat skuldig en onwaardig was, maar smekend gestaan het vir genade, het Jesus genade uitgedeel:
  • “Jou sonde is jou vergewe!”
  • “Jou sondes wat baie was, is jou vergewe!”
  • “Vrou, jou sonde is vergewe. Gaan heen en sondig nie meer nie!”
  • “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”
Meer van Jesus in ons lewens! Kom ons dors na Hom – begeer Hom in ons lewe – beleef Hom in ons gees! Dan sal Christus in ons vrygestel word en sal Sý karakter eienskappe deur ons vrygestel word. Dan sal ek en jy Jesus vir ander wees; ‘n genade-mens ...

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

You are here: Church Genade-mens of presteer-mens?
schoemans-chartered-accountants die-courant