Die Woord van Here spreek tot ons uit Esra 5:1, 2. Hier vind ons dat die Jode wat uit ballingskap na Jerusalem teruggekeer het (536 v.C.), opgehou het om die werk te doen waarvoor hulle gekom het, nl. om die huis van die Here weer op te bou na die verwoesting in 586 v.C deur Nebukadnesar.
Vir 15 jaar is die bouwerk net so gelos. Esra 4:24 sê: “Toe het die werk aan die huis van God wat in Jerusalem is, opgehou; en dit is gestaak …” Al die Jode wat teruggekeer het, het geweet hulle was deur God geroep om die taak te voltooi maar vir 15 jaar is alles gelaat! Maar danksy die twee profete, Haggai en Sagaria wat deur die Woord van die Here die volk opgewek en aangemoedig het, is die werk hervat. Dit was Kores die Pers met wie God aanvanklik gepraat het om die Jode vry te laat sodat hulle die huis van die Here kon bou (Esra 1:1-5).
My gedagtes gaan ver terug na my skool dae. Deur die Here se genade het ek goed presteer met werpskyf. Die een na die ander atletiekbyeenkoms het ek die eerste plek ingepalm. Maar toe druip ek ‘n Engelse toets en beland by die skoolhoof in die kantoor. Toe sê hy ietsie wat my die joos in gemaak het: “Dit help nie jy kan die diskus ‘n 180 voet gooi, maar jy druip jou Engels!” So kwaad en verneder het ek gevoel, dat ek net daar besluit: “Nóú gaan ek nie meer verder deel neem aan atletiek nie; veral nie die werpskyf item nie. Hulle sal my moet kom smeek en soebat om weer deel te neem.” My kinderagtige manier om hulle terug te kry. Hoe vleeslik en hardgebak kan ‘n kind nie soms wees nie!
Maar na so ‘n paar weke toe ek afgekoel het, en weer nugter dink, kom die Engelse spreekwoord by my op: “Cut your nose to spite your face.” Dis nou presies wat ek besig was om te doen. Ek benadeel op die ou end nét myself. Die Here het my ‘n talent gegee, maar net omdat die skoolhoof ietsie gesê het, het ek my opgeruk, aanstoot geneem en my aan alles onttrek tot my eie nadeel. Die skool sal aangaan en die atletiekbyeenkomste sal gehou word of ek nou daar is of nie. Net daar besluit ek om my kleinlikheid te los en terug te keer na die sportveld.
Ek is oortuig dat vele het ‘n opdrag van die Here om iets vir God te doen, maar omdat daar ‘n bietjie teenstand was, het hulle dit gelaat, net soos ek destyds met die werpskyf. (Daar sal altyd mense wees wat iets sal sê en daar sal altyd mense wees wat jaloers is, omdat iemand iets vir die Here doen.) Miskien het jy nou nie soos ek uit leedvermakerigheid opgehou met jou geroepe taak nie. Of miskien hét jy ... ?
Soos ‘n Haggai van ouds wil ek jou aanmoedig. Keer terug en gaan maak klaar! Die opdrag en werk van die Here is groter as my en jou persoonlike kleinserigheid. Soos ‘n ware volgeling van Jesus staan op en gaan doen waarvoor God jou geroep het!
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook



