@ at Malmesbury Business Directory

at-malmesbury-business-directory-logo

search-google 

Dra mekaar se swakhede (2)

02-god-van-baie-kanse
DRA MEKAAR SE SWAKHEDE (2)
Rom. 15:1 – “En op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie.”

Die gevolgtrekking waartoe ek kom: Ons het almal mekaar op een of ander stadium van ons lewe nodig en niemand

kan sê dat hy of sy is nét altyd sterk en kan op sy of haar eie aangaan vir die res van sy of haar lewe nie.

Daarom die tekste:

o   Rom. 15:1 – En op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie.”

o   Gal. 6:2 – “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.”

Hoe Dra Ons Ander Se Swakhede?

Deur gebed: Ons kan nie genoeg vir mekaar bid nie - voortdurend, ononderbroke. Wanneer jy aan iemand dink, bid sommer vir hom of haar. Die beste ding om te doen as jy jou “swak” broeder of suster ‘n foutjie sien maak, is wat ons lees in 1 Joh. 5:16 – “As iemand sy broeder ‘n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid.” Nie dit wêreldkundig maak nie, nét bid!

Wees ‘n skouer en ‘n oor: Selfs gelowiges is eensaam en weet nie wie hulle regtig kan vertrou nie. Sovele verlang net ‘n goeie vriend teenoor wie hulle, hulle harte kan uitpraat en van opgekropte frustrasie en ongelukkigheid ontslae kan raak. Gelowiges is nie volmaak nie en het ook vrese en hartseer. Laat ek en jy die skouer en oor vir hierdie mense wees, wat dit nooit verder sal neem as maar net na die Here in gebed.

Bied hulp aan: “Ai, hoe swaar is dit om alleen deur die lewe te moet gaan en jy het niemand om jou by te staan nie,” het iemand onlangs teenoor my genoem. Bied hulp aan en laat ander weet, jy is altyd daar om te help. Is dit nie wat Jesus van my en jou verlang nie? Dink weer aan ons teks: Rom. 15:1 – En op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie.” In die gemeente waar ek bevoorreg is om die Here en ander te dien, sê ons dikwels vir mekaar: “Ons is daar, vir mekaar.” Dis nodig dat ons dit dikwels teenoor mekaar sal bevestig: “Ek sal altyd daar wees vir jou.”

Liefde wat aanhou: Jou “swak” broer en suster gaan jou ongelukkig ook een of ander tyd teleurstel – net soos ek en jy ook maar kan teleurstel omdat niemand op aarde volmaaktheid bereik nie. Moenie dan die “afskryf” bediening beoefen nie. Vergewe en spreek vry en gee liefde wat aanhou net soos in ‘n huwelik.

Verswyg ander se foute: Kyk doelbewus weg van ander se foute en vertel dit nie oor nie. Jy sal sulke optrede van ander waardeer die dag wanneer jy ‘n fout maak! Onthou die Here stel nie so vreeslik belang in dit wat ander verkeerd doen nie, maar in dit wat ek en jy reg doen!

GEBED

Hemelse Vader, mag U genadiglik gee dat ek my dierbare broers en susters sal bystaan, opbou, motiveer en inspireer. Dáár sal wees vir hulle wanneer hulle my nodig het. Al skiet hulle te kort en al misluk hulle, dat ek hulle nog steeds sal lief hê en vir alles sal vergewe en vryspreek. In Jesus se Naam, amen!

PietSmit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën
wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

You are here: Church Dra mekaar se swakhede (2)
schoemans-chartered-accountants die-courant