Dat ‘n mens darem so getreiter moet word in die lewe …?
“Meneer dan nie ‘n ou tuin werkie vir my vandag nie?” vra ‘n jongman my toe ek die kerk deur oopmaak. “Ai, my vriend ek is so besig, ek kan nie vir jou oppas nie. Kom ons stap oor huis toe dan sit ek jou daar aan die gang deur die onkruid tussen die groente uit te trek. Maar jy moet nét doen wat ek vir jou sê né.”
By die huis gekom, stap ons na die agterkant: “Hier moet jy die vye ranke van die suurvye wat oor die paadjie groei, vir my afsteek met die graaf asb.”
So sit ek vir Fanie (nie regte naam) aan die werk. Na ek ‘n paar keer gaan kyk het wat Fanie doen, kom ek na ‘n ruk weer daar aan. Maar ek is verstom en verdwaas en vir ‘n oomblik het ek nie woorde nie. Ek kan nie glo wat ek sien nie! Daar lê my vyeboom se takke eenkant. Ek swaai om om te kyk of dit van my vyeboom afkomstig is. Daar staan die vyeboom soos ‘n hoendertjie waarvan die vere uitgepluk is met net nog drie, vier takke oor. Al die takke rondom het Fanie met die graaf bygekom en afgesteek.
“Fanie, wat het jy aangevang!? Hoe kan jy my vyeboom wat in drag is se takke gaan staan en afsteek met die graaf? Ek sien die hele jaar uit na die heerlike vye en nou het jy omtrent die hele boom tot niet gaan staan en maak!”
“Maar meneer, het dan gesê ek moet die vyeboom se rante met die graaf afsteek ...” Sê die stomme Fanie benoud, toe hy sien hoe ernstig en ontsteld ek is.”
“Ek het nie en sal jou nooit so iets vra om te doen nie! Ek het gesê jy moet die vye ranke afsteek.” Sê ek met ingehoue emosie terwyl ek my bes doen om myself te beheer.
Ek het gevoel ek kan vir Fanie iets aandoen vir die onherstelbare skade wat hy my vyeboom aangedoen het. Voorwaar, voorwaar ek sê vir jou; Fanie kan bly wees ek is ‘n bekeerde man, anders ...
“Ekskuus meneer, ek is vreeslik jammer. Dis ‘n misverstand.”
In daardie oomblikke besef ek; om nou my humeur te verloor, is tot oneer van Jesus. Die beste is om te vra: Wat sou Jesus doen? Net daar besluit ek om vir Fanie nog ‘n kans te gee. Teenoor hom op te tree soos wat ek verlang dat ander teenoor my sal reageer as ek oortree (Mat. 7:12). Die voorval agter my te sit en aan te gaan (Fil. 3:14). Vir Fanie weer in die tuin te laat werk en hom reg te leer. Sodoende doen ek die ander mense ‘n guns deur hom uit hulle tuine te hou en hulle vele skade te spaar. Én Fanie is sy lewe veilig ...
Job 1:22 – “By dit alles het Job nie gesondig.” “Dankie Jesus!”
PietSmit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook



