@ at Malmesbury Business Directory

at-malmesbury-business-directory-logo

search-google 

Die Beatles

02-god-van-baie-kanse
DIE BEATLES (1)
Iemand het gesê: “Wat musiek betref, is daar die drie B’s, nl. Beethoven, Bach en die Beatles.
Ek het met die Beatles en hulle musiek opgegroei en dit is net onmoontlik dat hulle musiek en styl jou nie geraak het nie. Daardie vier manne was hulle tydgenote ver vooruit en het letterlik die wêreld aan hulle voete gehad toe hulle op hulle kruin was (1963 -1966).

Hulle bedrewenheid as musikante het gemaak dat geen ander groep tot selfs vandag, hulle musiek kan laat klink soos wat hulle dit gedoen het nie. (Direkte opnames sonder rekenaars en elektroniese programmeerders.) Hulle stemme het mekaar soos ‘n handskoen gepas en die wyse waarop hulle tweede stemme en agtergrond stemme gebruik het, laat jou besef jy het met die meesters van die meesters te doen. Die omvang (range) van hulle stemme kan deur bittermin ander sangers nagedoen word. As jy toegang het tot internet kan jy gerus gaan luister na een van hulle musieksnitte nl. “I’m A Loser” en luister vir jouself na hoe hoog en hoe laag hulle kon sing.

ONDER BEGIN

Hoe sou hulle begin het? Het hierdie seuns van Liverpool sommer net eendag heel toevallig ‘n paar kitare sien rondlê en dit opgetel en daar is hulle sommer eensklaps die beste in die wêreld? Nee, nee, duisend maal nee! Hulle het óók onder begin. Heel, heel onder! Paul McCartney vertel (Beatles Anthology) dat in hulle begin jare hulle darem op die kitaar twee akkoorde, E en A kon speel. Toe kort hulle vir B7 vir ‘n sekere lied. Maar niemand kon hulle help nie. Toe hoor hulle van ‘n persoon aan die anderkant van Liverpool wat die akkoord B7 kan speel. Hulle is toe op ‘n bus tot by ‘n sekere punt. Daar moes hulle oorklim op ‘n ander bus om uiteindelik hul bestemming te bereik. Kyk net die moeite! Kyk net die opoffering vir één enkele akkoord! Hulle passie en ywer het hulle grootliks gevat van heel onder, na heel bo.

Daar is ‘n foto van hulle begin jare, waar een van hulle met sy rug na die gehoor staan, sodat die mense nie kon sien hy ken nie die akkoorde van die lied.

Maak nie saak wat jy bedryf nie. Of jy maar sommer iets vanaf jou huis bemark. Dink daaraan, vele het óók so begin. Die groep wat die gewildste ooit in die wêreld se geskiedenis was, het óók daar begin! Mark. 4:28 – “Want vanself bring die aarde vrug voort, eers ‘n halm, dan ‘n aar, dan die volle koring in die aar.”

Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

DIE BEATLES (2)

Wat het hulle laat uitstyg bo baie ander musiek groepe van daardie era? Was hulle net soveel meer talentvol as die ander groepe?

Verseker was hulle almal baie talentvol. As liedjie skrywers het hulle nie hul gelyke gehad nie. Paul McCartney se naam word deur die Genies Book of Records beskryf as die beste liedjie skrywer ooit. Hulle het ‘n verskeidenheid van rock and roll tot simfonie musiek gespeel. Hulle hou die rekord van die meeste nommer een treffers op die treffers parade in die bestek van ‘n klompie jare.

HARDE WERK EN STREWE NA PERFEKTHEID

Die Beatles was werkholiste. Ek het gelees dat hulle tydens opname sessies selfs in die klank ateljee in die nag oorgeslaap het as hulle eers aan die werk was.

Hulle was net met die beste tevrede. Daar word beweer dat hulle ‘n sekere lied 70 keer oor opgeneem het voordat hulle te vrede was! George Harrison, die hoof kitaarspeler, het die leuse gehad dat as hy ‘n foutjie maak terwyl hy oefen, hy eers daardie hele gedeelte 10 keer moes oor speel, voordat hy sou aangaan na ‘n volgende gedeelte.

Kyk ek na vele vandag: Alles wat nie op ‘n skinkbord vir hulle aangebied word nie, is te swaar. Dit moet alles net in hulle skoot val, anders sal hulle dit nie eens probeer nie. Sulke mense kom nie ver in die lewe nie.

Van die deugsame vrou van Spr. 31 word gesê:

  • Spr. 31:19 – “Sy steek haar hande uit na die spinstok ...” Sy ken van werk.
  • Spr. 31:27  - “... die brood van luiheid eet sy nie.” Sommige is glad nie bang vir werk nie, hulle slaap sommer langsaan.

In Spr. 22:13 staan: “Die luiaard sê: Daar is ‘n leeu buitekant; ek kan in die middel van die strate gedood word!” Verskonings om tog nie sy hande uit te steek om iets te doen nie. Dis asof dit teen sommige se “geloof” is om te sweet of moeg te word.

Net so ook op geestelike gebied; mense wil graag deur die Here gebruik word en eendag groot dinge vir God doen, maar hulle wil niks insit vir die saak van die Here nie.

Ek wil jou aanmoedig tot harde werk, ongeag watter beroep jy beoefen. Daar is geen plaasvervanger vir harde werk nie. God eer harde en eerlike werk en sal verseker jou beloon. Spr. 14:23 – “In enige moeitevolle arbeid is voordeel, maar praatjies is net tot gebrek.”

Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

DIE BEATLES (3)

 Tussen 1963 tot 1966 is daar gepraat van Beatle mania. Die hele wêreld was gaande oor die Beatles se musiek en styl van doen. Ek onthou as skoolseuns  het ons almal Beatle kuiwe gedra. Oral het jy wapentjies en hangertjies en stewels te koop gekry wat die Beatles uitgebeeld en nageboots het.

 LM Radio het daardie tyd vanaf Maputo (toe Lourenco Marques) uitgesaai en elke Saterdagaand het menigte jongmense die “top twenty” geluister met een van hulle plate wat reeds op nr. een was, of op pad was na die nr. een posisie. Liedere soos: Can’t Buy Me Love, Yesterday, Hard Days Night, Help – elkeen ‘n “masterpiece.”

Hulle openbare optredes het alle rekords oortref wat getalle en massa histerie betref. In Australië was hulle ontvangs groter as dié van die koningin van Engeland. Hulle moes met weermag maneuvers op die verhoë binne stadions besorg word, anders sou die bewonderaars hulle letterlik verskeur het. Die binnekant van stadions is afgekordon vir hulle optredes terwyl honderde polisie manne in gereedheid was om die skares van hulle weg te hou. Soms het gillende dames deurgebreek en letterlik soos vlakhase in die arena gehardloop terwyl polisiemanne hulle agterna moes sit en hulle al skoppende weer terug neem agter die kordon. Sommige het selfs flou geword in totale opgewondenheid en ekstase om hierdie vier aantreklike skoon geskeerde manne in hulle pakke te sien optree. (Die teenoorgestelde van vandag se takhare en gomtorre.)

HOE HANTEER ‘N MENS ROEM?

Hoe het die Beatles die roem hanteer? Omdat hulle nie weergebore Christene was nie, het die roem na hulle koppe gegaan en was daar nie sprake dat hulle die eer aan God sou gegee nie. Hulle het nie gedoen waarvan ons lees in 2 Kor. 10:17 – “Maar wie roem, moet in die Here roem.”

As kinders van God mag ons nooit, maar nooit roem vir onsself neem nie, nie eens in ons harte, asof ons iets is en asof ons iets bereik het nie. Gee altyd maar altyd, vir enige prestasie, die eer aan God!!!

Die Bybel waarsku:

  • Spr. 16:18 - “Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val.”
  • Good News Bible: Prov. 16:18 – “Pride leads to destruction, and arrogance to downfall.”
  • Message: Prov. 16:18 – “First pride, then the crash-- the bigger the ego, the harder the fall.”

Daarom toe hulle op die kruin van hulle gewildheid was, was hulle die naaste aan hulle ondergang ...

Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

DIE BEATLES (4)

Toe in 1966 in ‘n onderhoud met die Beatles het John Lennon die uitspraak gemaak dat hulle meer gewild is as wat Christus is. Later het hy weer in ‘n onderhoud dit probeer regstel en gesê dat hy uit konteks aangehaal is en dat hy self ‘n “Christen” is, die Bybel lees en die beginsels in die Bybel nastreef. (RSG  10 Oktober 2010 – die Legende Leef Voort)

Ongelukkig vir hulle, was die koeël deur die kerk en is hulle musiek van allerweë verban, ook in S.A. in daardie tyd. Hulle plate is deur baie verbrand en hulle gewildheid het begin afneem.

Niemand sal God se eer en waardigheid aantas en daarmee weg kom nie. Slegs 4 jaar na Lennon se uitspraak het die Beatles as groep ontbind in 1970 en op 8 Desember 1980 sterf hy aan die hand van Mark David Chapman in ‘n sluipmoord aanval.

Daar is min dinge wat vir God so ‘n gruwel is en wat Hy so haat soos hoogmoed. Van die 7 dinge wat die Bybel sê wat God haat in Spr. 6:16-19 staan daar eerste geskrywe “trotse oë” wat beteken hoogmoed!

ALMAL WAT HULSELF VERHOOG, WORD VERNEDER

Mat. 23:12 – “Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word.”

Die magtige en groot koning, Nebukadneser wie genoem is “koning van die konings” (Dan. 2:37) en wie se grootheid toegeneem het en gereik het tot aan die hemel en wie se heerskappy gestrek het tot aan die einde van die aarde (Dan. 4:22) is deur Daniël aangeraai om te breek met sy sondes (Dan. 4:27). Maar in sy hoogheid van hart het hy geweier om homself te verneder. Op ‘n dag het kranksinnigheid om oorval en is hy uit die paleis verwyder en moes hy soos ‘n bees buite in die veld lewe soos ‘n dier (Dan. 4:33). Wat ‘n vernedering! Eers toe hy later opgekyk het na die hemel (God), is hy herstel (Dan. 4:34).

Ons lees van koning Herodus wat homself koninklik aangetrek het en op die troon gaan sit het om die volk toe te spreek.

Hand. 12:22 – “Daarop het die volk hom toegeroep: ‘n Stem van ‘n god en nie van ‘n mens nie!”

Hand. 12:23 – “En onmiddellik het ‘n engel van die Here hom getref, omdat hy die eer nie aan God gegee het nie; en hy is deur wurms verteer en het gesterwe.”

Maar die goeie nuus om mee af te sluit: “Give God the glory, and He will give you the victory!”

Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

You are here: Church Die Beatles
schoemans-chartered-accountants die-courant