@ at Malmesbury Business Directory

at-malmesbury-business-directory-logo

search-google 

Dag en Datum

02-god-van-baie-kanse
DAG EN DATUM (1)
VRAAG
Moet ek ‘n dag en ‘n datum van bekering hê om gered of weergebore te wees om daardeur te kwalifiseer om hemel toe te gaan?

ANTWOORD  

Ek is van oortuiging dat elke mens ‘n datum moet hê. Dis wel waar dat nie almal het dieselfde agtergrond het nie. Sommige mense het letterlik groot geword in die kerk, terwyl ander nie die binnekant van ‘n kerk ken nie. Vir die persoon wat buite die kerk en kerkverband groot geword het en dan tot bekering kom, sal dit ‘n ingrypende en radikale gebeurtenis wees. Die uiterlike sonde sal doelbewus afgelê word en dit sal vir die persoon self en vir ander mense ook baie duidelik wees. Neem as voorbeeld die besetene van Gadara in Mark. 5. Toe hierdie man vir Jesus aanneem, het sy hele lewe voor almal se oë letterlik en figuurlik verander – hy was gekleed en by sy verstand en almal kon dit sien (vers 15).

Die verandering vir ‘n kerkmens sal miskien in al die gevalle nie so dramaties wees nie, maar iewers moet hy of sy tog ‘n besluit vir Jesus maak, waar hulle hulle sonde bely (meer innerlike en verborge) en laat staan en vir Jesus kies (Spr. 28:13; Joh. 1:12). Geen mens word outomaties ‘n kind van God gebore nie. Mens moet mos weergebore word – die wonderwerk waar die Heilige Gees die gees van die mens wederbaar. Joh. 3:5 – “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

Baie kan nie hulle dag en datum onthou nie, maar ek sê: “Natuurlik het jy ‘n dag en ‘n datum. Ek wil glo jy kan dit net nie onthou nie of is nie so heeltemal meer bewus daarvan nie.”

“Wel,” sê ek voorts: “As jy dan onseker is of jy ‘n dag en ‘n datum het; kry dan vir jou ‘n dag en ‘n datum. Die Here sal jou nie kwalik neem as jy bietjie onseker is en toe maar vir jou nog ‘n datum gekry het nie. Ek is oortuig God sal niemand kwalik neem omdat hy of sy ernstig is oor sy ewige eindbestemming en selfs 2 datums het nie. Of selfs 3. Selfs honderd datums kan jou geen skade doen nie. Maar een te min nl. géén, kan nie goed wees nie, want dan mis jy die hemel!

Ek het by geleentheid die hand van mnr. P.W. Botha geskud. Ek kan nie meer die presiese dag en datum onthou nie, maar ek onthou die geleentheid baie goed. So kan iemand ‘n datum van ontmoeting met Jesus hê, maar alhoewel hy of sy nie meer die datum kan onthou nie, weet hulle van die geleentheid en kan die besonderhede daarvan plaas.

As jy onseker is, hoekom nie hierdie dag jou datum maak nie?

 

DAG EN DATUM (2)

In die vorige skrywe het ek aangetoon dat ‘n mens ‘n dag en ‘n datum moet hê. D.w.s. ‘n doelbewuste dag waar jy by die punt kom dat jy ‘n besluit vir die Jesus maak. Dit bestaan uit twee stappies:

1.  Sonde bely en daarmee breek.

Spr. 28:13 – “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.”

1 Joh. 1:9 – “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”

1 Joh. 1:7 – “die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.”

2. Die Here Jesus aanneem as jou persoonlike Saligmaker.

Joh. 1:12 – “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;”

Open. 3:20 – “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.”

OORGAWE GEBED

Bid die volgende gebed in alle opregtheid in geloof:

Hemelse Vader, ek kom na U vir redding. Ek bely my sonde. Laat die bloed van Jesus wat Hy op die kruis van Golgota gestort het, ook vir my reinig. Vergewe my vir alles wat ek verkeerd gedoen het, alles wat ek verkeerd gesê het, alles wat ek verkeerd gedink het, alles wat ek versuim het om te doen. Ek breek met die ou en lou lewe om U as Here te volg.

Al was my sonde soos skarlaken, laat dit nou wit word soos sneeu. Al was dit rooi soos purper, laat dit nou word soos wol. U Woord sê, as ons, ons sonde bely, U is getrou en regverdig om ons die sonde te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Here Jesus, nou dat my hart skoon gewas is, nooi ek U as die Ere Koning om daar te kom woon. Word U die leiselhouer van my lewe. Word die kaptein van my lewenskippie. Ek nooi U in my lewe as die Here van my lewe.

Skryf my naam in die Boek van die lewe. Ek gaan U volg Here. Ek gaan U dien. Leer my hoe om U te behaag. Help my om kort rekeninge met U te hou. As ek per ongeluk sondig, om dit dan dadelik te bely.

Dankie Here, U red my! Ek prys U, U verlos my! Ek word nou kind van God! Ek is op pad hemel toe. In Jesus Naam. Amen!

(As jy die gebed gebid het, neem vrymoedigheid en laat weet my.)

 

DAG EN DATUM (3)

‘n Persoon wat sy sonde bely, sy hart vir Jesus gee en weergebore word, kan vergelyk word met ‘n babatjie wat gebore word. Dis ‘n delikate proses en net soos wat daar besondere sorg nodig is met ‘n pasgebore babatjie, net so moet daar spesiaal omgesien word na hulle wat gebore word in die Koninkryk van God.

VYF BELANGRIKE DINGE IS NODIG:

GLO DIE HERE

As jy jou hart so pas vir Jesus gegee het en jy opgestaan van jou knieë waar jy gebid het, wil ek jou aanmoedig om die Here en Sy Woord te glo. Waarom sal jy aan jou redding twyfel? Jy het op grond van Sy beloftes en saligheidsplan in Sy Woord na Hom gekom. Sal die Here dan nie Sy kant van die beloftes en kontrak nakom as jy jou deel gedoen het nie? Natuurlik sal Hy!

Num 23:19 – “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?”

Jy moet glo op grond van Sy Woord dat:

  • Jou sondes vergewe is (Efe. 1:7) en dat God dink daar nooit weer aan nie (Heb. 8:12; 10:17).
  • Dat die bloed van ons Here Jesus jou gewas en gereinig het (1 Joh. 1:7, 9).
  • Jesus nou deur die Heilige Gees in jou hart of gees woon (Open 3:20; Rom. 8:9, 16; 1 Kor. 6:19).
  • Jy geregverdig is (Rom. 5:1).
  • Jy weergebore is (Joh. 3:3, 5; Tit. 3:5)
  • Vlekkeloos en blaamloos voor Hom staan op grond van jou geloof in die kruisdood van Jesus (2 Kor. 5:21).
  • Jy nou gered is (Hand. 16:30, 31).
  • Sy kind is (Joh. 1:12).
  • Jou naam geskryf is in die boek van die lewe (Open. 15:20).
  • Op pad hemel toe is (2 Kor. 5:2)!
Dis nodig dit ‘n mens hierdie waarhede oor en oor moet hoor en jouself daaraan moet herinner. Bedink dit, bid dit, praat dit en dank die Here voortdurend daarvoor. Op die manier sal dit vir jou ‘n al groter werklikheid word en jou geloof toeneem.

Skryf jou dag en datum voor in jou Bybel; dit word later ‘n kosbare juweel om jou te herinner.

Epos Inval Gedagte Bediening
Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

You are here: Church Dag en Datum
schoemans-chartered-accountants die-courant