1 Thess. 5:16 – “Wees altyddeur bly.”
Ons almal leef vandag onder geweldige druk. Ek is oortuig dat ons groter druk beleef as 20 jaar gelede. Een persoon moet vandag omtrent twee persone se werk doen as gevolg van koste besparing. Mense wat aftree word nie sommer outomaties met ‘n ander werknemer vervang nie. Firmas dank mense af sonder om ander aan te stel en daar word van die verminderde personeel verwag om nog steeds die pas vol te hou. Niemand kan bekostig om te klae, anders is jy dalk jou pos kwyt en daar is nie ander werk so geredelik beskikbaar nie. Van alle kante word ons gevoer met negatiewe beriggewing d.m.v. die radio, televisie en die koerante. Gevolglik is dit nie snaaks dat vele gebuk gaan onder stres, spanning en ‘n ligte graad van depressie.
DEPRESSIE
Daardie lelike woord ... doodmaak woord ... wat iemand beskryf het as die “siekte van die tyd.” Hoe werk depressie? Ek gaan dit so eenvoudig maak as moontlik. Miskien kan jy so ietsie onthou van die Biologie op skool dat inligting van die brein na die sintuie en anders om, deur die senustelsel oorgedra word. ‘n Stof met die naam serotonien is grootliks verantwoordelik vir hierdie taak. Maar onder aanhoudende druk en spanning word hierdie stof uitgeput en opgebruik en dit herstel nie vanself na normale vlakke toe nie met die gevolg dat inligting word verwronge oorgedra na en vanaf die brein. Wanneer dit gebeur, lei jy aan depressie.
Dit help nie om vir sulke mense te sê: “Kom man, ruk jouself reg. Wat se nonsens is dit met jou?” Die persoon kan nie. Dis soos met enige ander siekte. Jy sê tog nie vir ‘n mens met kanker: “Ruk jouself reg nie,” want die persoon kan nie. As mense dit nog nooit gehad het nie, kan hulle nie saam praat nie en weet hulle nie waaroor dit gaan nie.Die beste teëvoeter vir depressie en voorkoming is blydskap. Neh. 8:11 sê: “Die blydskap in die Here is julle beskutting.” In ‘n tyd van geweldige en aanhoudende druk deur die toedoen van die vyande van die Jode, het hierdie goddelike waarheid tot die ore van die Joodse volk gekom. Blydskap is soos ‘n pantser wat jou hart beskerm sodat slegte en negatiewe inligting jou nie in jou gees kan kwes en jy daardeur geaffekteer en neerslagtig word nie.
LAAT MY TOE OM VANDAG VIR JOU TE BID ASB.Here Jesus, as daar iets is wat elke mens nodig het, dan is dit blydskap – egte Heilige Gees blydskap. Ek bid dat U dit ryklik sal uitstort in elkeen se hart wat biddend saamstem. Amen!
BLYDSKAP: DIE TEËVOETER VIR DEPRESSIE (2)
1 Thess. 5:16 – “Wees altyddeur bly.”
Kom ons gesels verder oor depressie – daardie onderwerp waarvan vele weinig weet en nie eens bewus is dat hulle daaraan ly nie. Baie is onkundig oor depressie en glo dis iets wat net die swakkes onder ons oorkom. Vir jare het vele gelowiges selfs gedink (wat dit nie gehad het nie), dis van die duiwel en gelowiges kan nie so iets kry nie tot dit aan hulle eie deur kom klop het.HOE LYK DEPRESSIE?
Fennell identifiseer die volgende simptome van kliniese depressie:
- ‘n Voortdurende hartseer gevoel. ‘n Mens huil ook oormatig baie.
- Abnormale skuld gevoelens, veral teenoor ander mense. ‘n Mens voel die hele tyd of jy almal om jou in die steek laat.
- Jy sukkel om emosioneel te reageer. Dieselfde doodsheid kom by goeie sowel as slegte emosies voor.
- Jy verloor belangstelling in normale aktiwiteite. Jou energie vlakke neem af en jy onttrek van die wêreld om jou.
- Omdat jy jou van die wêreld rondom jou onttrek, spandeer jy lang ure in ‘n stoel of op jou bed. Jy sit as ware en vergaan.
- Jy sukkel om te konsentreer. Jy sukkel om goed te onthou, soos afsprake en ander verbintenisse, verjaarsdae, ens.
- Jy raak oor behep met jou eie gevoelens en die onsekerhede van jou toekoms.
- Jy ondervind versteurings in jou slaappatroon, eetgewoontes, seksuele dryfkrag, ens. Jy is byvoorbeeld geneig om òf te veel te eet òf glad niks te eet nie.
- Jy ondervind ‘n toename in die gevoel van hopeloosheid. Jy het eerder ‘n begeerte om maar dood te gaan.
- Selfmoord gedagtes kom al hoe meer voor. Daar word bereken dat 15% van erge depressielyers, pleeg op die ou end wel selfmoord.
GEBED
Here Jesus vul my hart met egte Heilige Gees blydskap. Laat dit wees soos ‘n dik harnas om my geesmens, sodat geen pyl van neerslagtigheid of depressie my kan verwond nie. Amen!
BLYDSKAP: DIE TEËVOETER VIR DEPRESSIE (3)
1 Thess. 5:16 – “Wees altyddeur bly.”
Sommige mense word regtig met ‘n voorsprong in die lewe gebore. Van kleins af is hulle vol blydskap en vrolik van hart. Hulle geaardheid is net van so ‘n aarde dat niks hulle kan onder kry nie en hulle sien spontaan die positiewe kant van die lewe. Dis asof dit in hulle gene is en gewoonlik is hulle ouers ook positiewe mense. Dit mag wees dat die ouers se lewenstyl op die kinders oorgedra word en niks met oorerflikheid te doen het nie. Ek onthou so ‘n skoolseun in die Hoërskool Calvinia, waar ek op daardie stadium onderwys gegee het. Sy bynaam was Laggie. Daar was altyd so ‘n laggie op sy gesig. As jy een van daardie mense is, moet jy die Here baie dankbaar wees!Ander mense kom ongelukkig baie negatief die lewe binne. Hulle is van kleins af negatief teenoor alles ingestel en sien net altyd die donker kant van die lewe. Wanneer ander iets snaaks sien en daaroor lag, sien hulle niks om oor te lag nie en is selfs kwaad dat ander daaroor kan lag. Spr. 15:15 – “Al die dae van die bedrukte is sleg, maar die vrolike van hart het gedurigdeur fees.”
AANLEEREk wil by jou aanbeveel dat jy vir jou self sal begin aanleer om ‘n positiewe mens te word. Om in alles iets moois te sien en doelbewus aan dinge te dink wat blydskap en dankbaarheid by jou opwek. Selfs die humor in situasies raak te sien en daaroor te lag. Daar gebeur elke dag baie dinge waaroor ons agterna kan lag. Op daardie oomblik wanneer dit gebeur, is dit miskien glad nie snaaks nie, moontlik ‘n krisis. Maar aan die einde van die dag, dink so ‘n bietjie terug en dan sal jy sien hoeveel snaakse dinge daar tog deur die loop van die dag gebeur het.
Die wyse Salomo het gesê (Pred. 3:22): “So het ek gesien dat daar niks beters is as dat die mens hom verheug en sy werke.” Ons moet ook nie skuldig voel as ons as Christene lag nie. God het tog die lag emosie geskep juis om ons harte vrolik te maak, wat ons beskerm en bewaar en immuun maak teen depressie.In ‘n vorige gemeente het ons gereeld gemeente kampe gehou en dan was die gebruik om die Saterdagaand ‘n konsert met itemme te hou. Daar was die snaaksste goed en ons het ons letterlik pap gelag. Daardie nag slaap ons soos babatjies. Maar dan voel ek so skuldig, want die volgende dag is diens en ek moet preek. Dan gaan bid ons na die tyd so wat ons kan, om weer die skuld gevoel weg te kry. Sondagoggend seën die Here ons wonderbaarlik!
Vandag, in die lig van die druk van die lewe, dink ek anders daaroor en besef ek, ek en jy hoef glad nie skuldig te voel wanneer ons oor iets skoon en onskuldig heerlik kan lag nie.
BLYDSKAP: DIE TEËVOETER VIR DEPRESSIE (4)
1 Thess. 5:16 – “Wees altyddeur bly.”
‘n Man vertel my hoe goed sy geheue was voordat depressie toegeslaan het. Wanneer die bestuurder by die werk navraag gedoen het na ‘n transaksie van ‘n jaar gelede dan sou hy onmiddellik kon antwoord bv.: “Dit was laas jaar die 15de Mei en ons het dit aangekoop my so en so. Ek sal net gou gaan kyk, wat is die rekening nr.” Maar toe sak depressie toe op sy lewe soos ‘n donker skaduwee en kon hy nie eens sy selfoon nr. onthou nie. Hoe aaklig en sleg en daarom sê ek: “Voorkoming is beter as genesing.”Dinge wat mense in depressie laat beland is dinge soos wanneer iemand sy werk verloor. Nou kan ons onsself indink in so ‘n persoon se situasie ... Op ‘n stadium was daar tot 40% werkloosheid in ons land. Gevolglik moes nagenoeg dieselfde persentasie mense ook gely het aan depressie.
Mense wat deur egskeiding gaan, beleef intense gevoelens van verwyte, skuldgevoelens, hartseer, verwerping, selfbejammering, woede en bitterheid. En stadig maar seker mergel dit alle vreugde uit jou lewe uit.Die dood van ‘n geliefde kan ook van so ‘n aard wees dat mense nie daar oor kan kom nie en depressie slaan toe.
KRY VIR JOU DINGE OM OOR BLY TE WEESNou wil ek aanbeveel; kry vir jou dinge om oor bly te wees. Dis nodig dat ‘n mens ‘n lewenswyse van blydskap aankweek – dinge in jou lewe waaroor jy altyd dankbaar en bly kan wees. Maar benewens persoonlike dinge soos: Familie, vriende, ‘n dak oor jou kop, gesondheid ens., wil ek vir jou 9 Bybelse redes gee waaroor jy altyd bly kan wees. Hieraan moet jy dink in tye wanneer swaarmoedigheid oor jou wil toesak. Laat dan toe dat die Heilige Gees hierdie waarhede opflikker in jou hart en jou besiel met blydskap.
1. DAT CHRISTUS GEBORE IS (sy vleeswording)Luk. 1:14 – “En hy sal blydskap en verheuging vir jou wees, en baie sal oor sy geboorte bly wees;”
Om en by Kersfees elke jaar sing almal: “Die Heiland is gebore ...” O, wees een van die vele wat altyd bly is oor Christus se geboorte! Dit moet by my en jou ewigdurende vreugde opwek, want besef jy dat daarsonder kon nie ek of jy of selfs Bybelse karakters soos bv. Petrus, Johannes of Paulus gered geword het nie!Gebed:
Here Jesus, vul my hart met die volle begrip en betekenis van U geboorte en laat ek elke dag my daarin verheug!
BLYDSKAP: DIE TEËVOETER VIR DEPRESSIE (5)
1 Thess. 5:16 – “Wees altyddeur bly.”
NEGE BYBELSE DINGE OM OOR BLY TE WEES (vervolg)
2. DIE AANHOOR VAN DIE EVANGELIE
Mag die Here ons weer help om bly te wees oor iets so eenvoudig soos die aanhoor van die goeie boodskap, die beste boodskap, wat die lied van weleer noem, “die ou ou tyding, die boodskap van Gods heil.” Mag dit nóg ons harte vul met blydskap!
In Hand. 13:48 was die mense nog bly: “En toe die heidene dit hoor (die evangelie), was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.”3. DIE INSKRIPSIE VAN JOU NAAM IN DIE HEMEL
Die twaalf dissipels van Jesus het met vreugde teruggekom na die eerste oefenlopie nadat Jesus hulle uitgestuur het om met gesag die evangelie te gaan verkondig. Ek sien hulle so voor my oë hoedat hulle straal van genoegdoening in die Here (Luk. 10:17): “Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in U Naam.”
Tot op daardie stadium lees ons van niemand wat duiwels uitgedryf het nie, behalwe die Here Jesus. Nêrens lees ons in die Ou Testament dat enige van die profete soos bv. Elia of Elisa of Jesaja duiwels uitgedryf het nie. Dus, was dit vir hulle iets geweldig om só deur die Here gebruik te word.
Enige gelowige is bly as hy of sy deur God gebruik word. Maar dan bring Jesus vir hulle perspektief op die saak in Sy uitspraak (Luk. 10:20): “Maar julle moenie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderworpe is nie, maar wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskrywe is.”- Daar is iets groter as om deur die Here gebruik te word.
- Moenie so danig bly wees oor wat jy vir God gedoen het nie, maar oor wat Hý vir jou gedoen het.
- Dis moontlik dat ‘n mens kan arbei vir die Here en selfs wonders en tekens doen (Mat. 7:22, 23) en tog nog verlore kan gaan.
- Selfs Judas sou duiwels uitgedryf het in Jesus se Naam, maar het verlore gegaan.
- Maar dat jy gered is en dat jou Naam in die boek van lewe (Fil. 4:3) en in die hemel opgeskrywe is, moet die grootste vreugde vir ons wees!
BLYDSKAP: DIE TEËVOETER VIR DEPRESSIE (6)
1 Thess. 5:16 – “Wees altyddeur bly.”
NEGE BYBELSE DINGE OM OOR BLY TE WEES (vervolg)4. JESUS SE TEENWOORDIGHEID BY SY DISSIPELS
Die Here Jesus sê vir Sy dissipels in Joh. 16:22 – “Julle het dan ook nou droefheid, maar Ek sal julle weer sien en julle hart sal bly word, en niemand neem julle blydskap van julle weg nie.”
Wat ‘n tyd van donkerte was dit nie vir Jesus se dissipels toe Hy van hulle geskei was tydens die tyd dat Hy in die graf was nie. Maar, prys die Here, toe staan Hy op uit die graf deur die krag van Sy Vader en Sy eie krag en deur die krag van die Heilige Gees! Hy verskyn aan Sy dissipels terwyl hulle agter geslote deure uit vrees vir die Jode vergader.Die eerste ding wat Hy doen, is om vir hulle te sê (Joh. 20:20): “Vrede vir julle. En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle Sy hande en Sy sy.” Die wonde moes hulle oortuig het, dat dit Hy Self was en nie ‘n spook (demoon) of ‘n geestelike wese soos ‘n engel nie.
En dan staan daar geskrywe: “En die dissipels was bly.”!!!
Jesus in ons midde bring blydskap vir Sy ware dissipels! Die koortjie sê:“Hy’s hier, Hy’t opgestaan!”
- Jesus Self het verklaar (Mat. 19:20): “En kyk, ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen!” Jesus deur Sy Heilige Gees by ons om ons nooit te verlaat of in steek te laat! Kom kind van God wees bly!
- Die Sendbrief aan die Efesiërs verklaar (Efe. 3:17): “Sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon.” Kom kind van God wees bly, omdat jy die Here Jesus aangeneem het as jou Verlosser, woon Hy in jou deur Sy Gees!
BLYDSKAP: DIE TEËVOETER VIR DEPRESSIE (7)
1 Thess. 5:16 – “Wees altyddeur bly.”
NEGE BYBELSE DINGE OM OOR BLY TE WEES (vervolg)5. SY KRAG
In Luk. 13:17 lees ons die volgende, nadat die krag van Jesus gedemonstreer is: “En die hele skare was bly oor al die heerlike dinge wat deur Hom gebeur het.”
Ja, ons moet bly wees oor elke dingetjie wat God doen. Wie die kleine nie waardeer nie, is die grote nie werd nie.
- Wees bly as Jesus ‘n hoofpyn genees;
- Wees bly as die Here jou stywe nek aanraak en dit beter voel;
- Wees bly as jou stram gewrig beter voel na gebed;
- Wees bly oor enige pyn wat verdwyn die volgende oggend nadat jy die vorige aand gelowig gebid het. Tot by die punt waar die kankers uitval en verlamdes uit rolstoele opstaan na gebed!
So vra ek ‘n tyd gelede vir my vrou om die klawerbord van die rekenaar by die huis skoon te maak waarvan die letters bo-op aangepak is. My vrou is baie deeglik en het net goed bedoel. Toe gaan Sy en haal die hele ding uitmekaar uit om daar binne te stofsuig. En daar is die sleutelbord tot niet en dit wil nie werk nie. Sy het die hele agtermiddag gesukkel om die goed weer eie handig inmekaar te sit en tot vier keer dit oop en toe geskroef.
Ek was nie min ongelukkig toe ek hoor wat gebeur het. Maar nou moet ek maar my woorde tel, want vroutjie het mos net goed bedoel. Daardie nag lê ek wakker vanaf twee-uur die oggend en bid en top oor die sleutelbord:- Plaas dat ek nou maar liewer dit self skoongemaak het;
- As ek die sleutelbord net so vuil gelos het, dan het dit nou nog gewerk.
- As die sleutelbord dan nou beskadig is en ons elk geval ‘n nuwe moet koop, kan dit tog nie skade doen om dit oop te maak nie.
GEBED
Here ons prys U vir elke dingetjie wat U deur U krag vir ons elke dag doen! Ons harte is bly en vrolik in die Here wat alleen wonders doen! Amen!
BLYDSKAP: DIE TEËVOETER VIR DEPRESSIE (8)
1 Thess. 5:16 – “Wees altyddeur bly.”
NEGE BYBELSE DINGE OM OOR BLY TE WEES (vervolg)6. WANNEER DIT MET ANDER GEESTELIK GOED GAAN
Die Bybel leer dat ek en jy moet bly wees wanneer ons verneem dat dit met ander geestelik goed gaan. Daar is geen plek vir jaloesie of naywer onder die kinders van die Here nie.
As ons die gedeelte in 2 Kor. 7:9-16 noukeurig lees, dan sal ons sien dat die oomblik toe Paulus verneem, dit gaan weer geestelik goed met die Korinthiërs, was hy bly. 2 Kor. 7:9 – “Nou is ek bly, nie omdat julle bedroef was nie, maar omdat julle bedroef was tot bekering.”
Wees bly:
- Wanneer jou broer en suster in die Here geestelik groei;
- Wanneer jy sien hoedat ander ontluik in die Here;
- Wanneer ander deur die Here gebruik word.
7. VRYHEID IN CHRISTUS
Tydens die Raadsvergadering in Jerusalem van Hand. 15, het die vroeë kerk beraadslaag in watter mate die bekeerlinge uit die heidendom nog die wet moes onderhou. Die Raad kom toe tot ‘n besluit en hulle skryf ‘n brief om die gelowiges in te lig en basies kom dit daarop neer: “Julle hoef nie meer die wet te onderhou om daardeur gered te word nie.” Dan lees ons is vers 31: “En toe hulle (gelowiges aan wie die brief gerig was) dit gelees het, was hulle bly oor die bemoediging.”
Wees bly kind van God, dat die Here dit vir ons so maklik gemaak het om hemel te te gaan.
- Ek hoef nie meer jaarliks drie keer Jerusalem toe te gaan om daar Joodse feeste te gaan onderhou nie;
- Ek hoef nie meer by die tempel te gaan offers bring nie;
- Ek hoef nie meer ‘n duisend-en-tien voorskrifte na te kom nie.
Nou word ek en jy by God geregverdig deur geloof in die kruisdood van ons Here Jesus Christus en ons volg Jesus na! “My siel is bly, is bly ..., want Christus maak my vry!”
BLYDSKAP: DIE TEËVOETER VIR DEPRESSIE (9)
1 Thess. 5:16 – “Wees altyddeur bly.”
NEGE BYBELSE DINGE OM OOR BLY TE WEES (vervolg)8. JESUS SE KOMS
Dat Jesus weer gaan kom is ‘n feit en ‘n werklikheid! Die gesonde wederkoms verwagting vir die kind van God moet wees: Verwag Hom elke dag! Ek glo dat daar is geen profesie of voorspelling wat nog eers in vervulling moet gaan voordat die Here Jesus uit die hemel gaan kom om Sy bruidsheiliges weg te neem nie. Omdat ek nie oor omstrede Bybelse onderwerpe hier skryf nie, kan ek nie in te veel detail gaan nie. Maar van die voorste Bybelkenners is dit eens dat óns die geslag is wat die koms van die Here Jesus sal beleef (Mat. 24:34).
As jou saak met God reg is, dan is dit iets wat jou hart elke dag baie bly moet maak! Kyk net wat sê die Woord:- Rom 12:12 – “Verbly julle in die hoop.” (Die hoop op die koms van Jesus.)
- Rom 5:2 – “Ons roem (rejoice – KJV) in die hoop op die heerlikheid van God.” (Die heerlikheid wat ons sal ontvang as Hy kom.)
- Rev 19:7 – “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.”
Jesus gaan kom op die wolke
Jesus gaan kom in die lug
Jesus gaan kom op die wolke
En elke oog sal hom sien
Elke knie sal buig
Elke tong bely
Hy is Jesus, Koning en Heer
GEBEDHere, ons bid vandag vir wederkoms blydskap in ons hart. Vul ons harte met verwagting dat U enige oomblik kan kom om ons weg te neem om vir ewig by U te wees! Amen!
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272
BLYDSKAP: DIE TEËVOETER VIR DEPRESSIE (9)
1 Thess. 5:16 – “Wees altyddeur bly.”
NEGE BYBELSE DINGE OM OOR BLY TE WEES (vervolg)
9. OM TE LY VIR CHRISTUS
Hierdie een is nie so maklik nie. Maar donker dae kom oor die wêreld – die Bybel sê dit (2 Tim. 3:1): “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.” Ek wens ek kon jou die versekering gee en gerusstel: “Nee wat, ons sal nooit vervolg word of ly vir Jesus nie.”
Maar as ons dan moet ly, laat ons gesindheid wees, die van die vroeë dissipels terwyl hul rûe stukkend geslaan was (Hand. 5:41): “Hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly.”
Lofsingende was Paulus en Silas met hulle rûe stukkend geslaan, in kettings in die tronk van Filippi (Hand. 16). Hulle het nie geweet wat op hulle wag die volgende dag nie. Selfs die dood was nie uitgesluit nie. Maar hulle sang in hulle uur van verdrukking, het God se hart geroer sodat Hy ‘n aardbewing beskik het sodat die tronkdeure oopgeswaai het en die Bybel sê dat die boeie van almal het losgeraak (Hand. 16:26). Dis iets om weer oor te gaan dink! Hoe lyk my en jou blydskap, as hedendaagse Christene in die uur van beproewing?
FIl. 2:17 – “Maar al word ek as ‘n drankoffer uitgegiet oor die offer en bediening van julle geloof, verbly ek my, ja, verbly ek my saam met julle almal;”Mat. 5:11 – “Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil.”
Mat. 5:12 – “Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.”
Terwyl dinge vir ons swaarder gaan word, glo ek dat nét mense met blydskap sal kan volhard in die eindstryd.SLOT
Maar nou is dit so wonderlik, al het ek en jy selfs geen rede om bly te wees nie; die inwonende Heilige Gees gee blydskap. Dis asof die Heilige Gees kom en jou kom kielie en jy ervaar onder die felste omstandighede ongekende blydskap. Iets soos Fil. 4:7 - “‘n vrede wat alles verstand te bowe gaan.” Maar in hierdie geval, ‘n blydskap wat alle verstand te bowe gaan!
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272
Die reeks oor Depressie is afgehandel, maar hier is skrywes wat in hierdie tyd aan my gerig is, wat ek tog voel om met u te deel. Die volledige reeks is op aanvraag beskikbaar.
GETUIENISSE OOR DEPRESSIE
C. O. SKRYFWat nou van my geval? Ek't in V... depressie gekry. Ek was IN die Kerk. IN die bediening. NABY die Here daagliks.
Weet pastoor wat het mý depressie erger gemaak? Mense IN die kerk wat vir my gesê het dat my depressie is oor my gelóóf te swak is.Ek het geweet, geglo dit is nie so nie. Maar ek het as gevolg van die mense wat dit vir my gesê het, begin skaam voel oor myself. Begin tuisbly op Sondae. Begin worstel met God: "Hoekom Here? Hoekom het U my bediening toe geroep as U dan wéét my geloof is te swak?"
Ek weet van minstens 2 keer, gedurende daardie tyd wat ek die begeerte ontwikkel het om selfmoord te pleeg. Maar, prys die Here, ek kon genadiglik daardie gedagtes hanteer.Tot die Here my op ‘n dag gewys het: Jy het nie depressie oor jou geloof swak is nie. Ook nie oor jy ver van My is nie. Jy het depressie wat ‘n OORSAAK het, nes diabetes, hoë bloeddruk ens. Onthou - nie alle depressie kom van eksterne faktore nie. Dit kan óók kom van mediese faktore binne die brein, òf van ‘n kombinasie van die 2. Eers tóé kon ek vrede maak met die idee. Eers tóé, met hierdie kennis, kon my genesing begin.
J. SKRYFWanneer jy 'n kind het wat hieraan ly, besef jy eers wat dit werklik beteken. 'n Verdere probleem natuurlik is dat so 'n persoon ook juis baie skepties teenoor Godsdiens staan.
Gelukkig is dit in baie gevalle darem medies behandelbaar. Maar die stigma van die siekte maak ongelukkig dat mense dit wegsteek of verkeerd diagnoseer en medikasie wat sou kon help, nie kry nie.KOMMENTAAR
- Vir mense met depressie: Gebruik die mediese voorskrifte van die dokter soos hy dit aanbeveel.
- Vir mense wat buite depressie staan, is dit goed om van hierdie getuienisse kennis te neem. Lees elke sinnetjie raak.
- Moenie mense oordeel en veroordeel, terwyl jy buite staan en weinige begrip het van depressie.
Help ons Here, ons wat buite depressie staan om diegene wat dit tans beleef met groot deernis en sensitiwiteit by te staan. Genees asseblief die depressie lyers deur U krag in die Naam van Jesus! Amen!
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272



