Tannie Kollie is basies ‘n invalide en word deur tannie Marie versorg. Eersgenoemde het artritis vanaf haar elfde jaar. Verder het sy ook ‘n gewas aan haar lugpyp met die gevolg dat daar slegs 20% lug deurgelaat word.
Maar wat my dadelik opgeval het, is die blydskap en die dankbaarheid in hierdie gelowiges se lewens. Ongeag dat tannie Kollie omtrent nooit uit daardie woonstel kan kom nie, bykans elke oomblik versorging nodig het en nie kan loop nie, was die gesprek besonders positief. Beide van hulle se humorsin was aansteeklik.Opnuut het ek net weer besef toe ek daar weg stap:
- Blydskap en dankbaarheid is nie afhanklik van jou omstandighede nie – hier het ek dit prakties voor my oë aanskou.
- Baie mense het die rooskleurigste omstandighede, en tog is hulle diep beswaard.
- Maak nie saak wat jou omstandighede is nie, jy het nog steeds ‘n keuse hoe jy daaroor gaan voel.
- Dis moontlik om in slegte omstandighede nog steeds te kies om dankbaar teenoor die Here te wees, want dit kon altyd erger gewees het.
Neh.8:11 – “Want die blydskap in die Here – dit is julle beskutting.” Blydskap is ‘n krag wat depressie en swaarmoedigheid teëwerk. Mense wat blydskap ervaar, is mense wat doelbewus besluit het om weg te kyk van hulle omstandighede en te fokus op dit wat wel mooi en goed is in hulle lewe.
Daar is mense wat miljoenêrs is maar diep ongelukkig is. Die rede is grootliks omdat hulle hul tien teen een blind staar teen die paar dingetjies in hulle lewe wat nie so blink is nie, terwyl hulle vergeet van die baie blink in hul lewe.Maar let op, die teksvers sê: “die blydskap in die HERE.” Om in Christus te wees en die Here in jou lewe te hê, het ‘n verborge krag! Herhaalde male sê Paulus dit vir die gelowiges in sy Filippense brief: Fil. 4:4 – “Verbly julle altyd in die Here.” Al het jy niks, kan jy nog steeds in die Here bly wees – die feit dat jy Hom ken en hemel toe gaan! Gestroop van alles en aardse sekuriteite het Paulus en Silas met bloedbelope rûe die Here met hartlike oorgawe in die middernagtelike ure in die tronk van Filippi geprys (Hand. 16)!
Kom kind van die Here, maak jou keuse en prys die Here in jou omstandighede!Epos Inval Gedagte Bediening
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272



