Mat. 24:27 – “Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.”
SKIELIK EN VINNIG
Weerlig vra nie vooraf toestemming om te flits nie.
Die woordjie “skielik” kom net 9 keer voor in die Nuwe Testament en 8 keer het dit betrekking op die vinnige en bonatuurlike ingryping van die Here.
- Mark. 13:36 – “dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie.”
- Luk. 2:13 – “En skielik was daar saam met die engel ‘n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê:”
- Luk. 21:34 – “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie.”
- Hand. 2:2 – “En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het.”
- Hand. 16:26 – “En skielik kom daar ‘n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis geskud het. En onmiddellik het al die deure oopgegaan en die boeie van almal het losgeraak.”
GEBED
Here, omskep die afgesaagde lewenswyse van vele na ‘n tintelende opgewondenheid in afwagting op die koms van Jesus vir Sy bruidsheiliges! Amen!
Piet Smit073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272
AS JESUS KOM OP DIE WOLKE (2)Mat. 24:44 – “... want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.”
ONVERWAGSWanneer Jesus weer gaan kom, sal dit wees wanneer die meerderheid van mense dit die minste verwag. 1 Thess 5:3 – “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.” Met al die moderne tegnologie en toerusting weet die meeste vroue vandag haarfyn wanneer hul datum is wanneer babatjie kom. Maar selfs met alle berekeninge in plek, is die natuur soms onvoorspelbaar en kan dit gebeur, dat die geboorte ewe skielik so ‘n swanger vrou oorval. Dis dan dat ons hoor van geboortes wat in die motor op die hoofweg op pad na die hospitaal gebeur. Geboortes tot in ‘n boom ... soos in Mosambiek ‘n klompie jare gelede met die oorstromngs.
1 Thess 5:2 – “want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ‘n dief in die nag.”Wanneer diewe ‘n inbraak doen, dan beplan hulle dit vir ‘n dag en ‘n uur wat die huismense dit die minste verwag. As ek nou ‘n dief was, sou ek dit beplan het vir wanneer die Springbokke ‘n groot rugbytoets speel teen een van die sterkste spanne soos bv. die All Blacks. Die hele S.A. sit dan vasgenael en nie-verskuifbaar asof gehipnotiseer voor die TV skerms en “speel” met volle konsentrasie en ingehoue asems saam. Sommiges kryt die skeidsregter uit, ander sou beter kon skop of druk of hardloop of duik of laagvat en nog ander meen hulle aanmoediging en volgehoue senu spanning sal die nasionale span ‘n hupstootjie gee teen die opponente.
Hulle het nie ‘n saak met wat in die res van die huis gebeur nie. As die diewe moes besluit om tydens toets rugby in S.A. in te breek, sal hulle die land rot en kaal steel! Maar dit lyk my tot selfs die diewe kyk ook almal rugby op daardie dag en kan hulle dit nie oor hulle hart kry om die wedstryd te mis nie, want ek het nog nooit gehoor van ‘n inbraak of ‘n grootskaalse diefstal poging tydens so ‘n internasionale kragmeting nie.
Iets soortgelyk sal dit die dag of nag wees wanneer Jesus gaan kom. Die meeste se aandag sal elders wees. Omdat hulle gedagtes maar meestal met ander dinge vasgevang is, sal hulle nie verwag dat dit die groot dag van Jesus se koms sal wees nie. Dis daarom dat ons die dinge moet bedink wat daar bo is en Hom altyd verwag en moet verlang dat Hy spoedig weer sal kom. Heb. 9:28 praat van “Christus sal vir die tweede maal ... verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid”
Verwag jy Hom vandag? Is jy reg as Hy nóú gaan kom?
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272
AS JESUS KOM OP DIE WOLKE (3)Mat. 24:44 – “Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.”
DIE MEERDERHEID SAL NIE GEREED WEES NIE
Hoe sal dit gaan op die dag wanneer die Seun van God op die wolke verskyn om Sy bruid te kom haal? Waarmee sal Hy die aardbewoners besig vind?
- Mat 24:38 - “Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het,”
- Luk. 17:28 – “Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou.”
Kyk weer wat sê die Woord, waarmee sal Christus die mense besig vind wanneer Hy kom. Hul sal besig wees om te:
Ø Eet en drink,
Ø Trou,
Ø Koop en verkoop,
Ø Plant,
Ø Bou.
Is daar dan fout om hierdie dinge te doen? Nee, verseker nie, dis dan die alledaagse dinge waarmee ons onsself elke dag mee moet besig hou om ‘n lewe te maak. Maar die probleem is; vir die meeste mense het die alledaagse so belangrik geword, dis ál waarmee hulle hulself besig hou. Daar is nie plek en tyd vir die Here Jesus in hulle vol skedules nie. Dis ál wat hulle elke dag loop en bedink. God en Sy Woord bestaan nie vir hulle nie.
Tussen Strandfontein en Doringbaai aan die Weskus, op die kant van die afgrond teen die see, is daar ‘n gedenksteen met die volgende inskripsie daarop: “Hier het Hannes van Zyl afgestort en gesterf” (1957). Ook ‘n teksvers is daar aangebring: Mat. 25:13 – “Waak dan omdat julle die dag en die uur nie weet nie.”
Presies daar waar ek gestap en gestaan het, moes hy ook geloop het. Nooit sou daardie man ‘n paar sekondes voordat sy voet geglip het, ooit gedink het, gedroom het, beplan het: “Vandag sterf ek.” Veral wat ons weet het hy geloop en beplan wat die toekoms betref. Was hy gereed om te sterf ...?
Maar ek en jy hoef mos nie in onsekerheid te leef wat die koms van Jesus betref nie. Bekeer jou nou! Breek met sonde - bely en laat staan! Vra vir Jesus om jou te was met Sy bloed. Vra Hom om in jou hart te kom woon. Volg Hom wakend en biddend vir die res van jou lewe! Totdat Hy kom!
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272
AS JESUS KOM OP DIE WOLKE (4)
Mat. 24:44 – “Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.”
DIE HERE WIL HÊ DAT ONS GEREED SAL WEES
Daar is geen gedagte daar aan dat die Here aspres mense onverhoeds in onklaarheid wil uitvang wanneer Hy kom, asof Hy nié wil hê dat mense moet hemel toe gaan nie. Nee, Jesus wil hê dat ek en jy gereed sal wees wanneer Hy weer kom.
Jesus gaan verseker kom. Hy het Self so gesê, of jy nou reg is of nie.
- Joh. 14:2 – “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.”
- Joh 14:3 – “En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”
Ø Hy wíl hê dat jy sal reg wees as Hy kom.
Ø Hy wíl hê dat jy sal gereed wees as Hy deur die wolke breek.
Ø Hy wíl hê dat jy klaar sal wees met enigiets wat jou kon vashou en terughou vir die hemel.
God se volmaakte wil was nog altyd van die begin af dat alle mense gered moet word en op die ou end saam met Hom in volmaaktheid sou woon. God het alles gedoen sodat jy gered kan word. Dink daaraan: Hy het Sy Seun laat sterf in die mens se plek sodat sondevergifnis moontlik is vir elkeen wat na die kruis kom vir redding. Verder, Sy Seun is besig om die allerfraaiste plek vir hulle wat Hom kies in die nuwe Jerusalem voor te berei vir ‘n woning daar.
2 Pet. 3:9 – “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”
Hy talm en waarsku en praat op allerlei maniere om die mens wakker te maak vir Sy spoedige wederkoms, sodat niemand dit sal mis nie. Hy gebruik alles denkbaar om mense gereed te kry. As jy nie gereed is nie, dink daar aan; die son het vanoggend opgekom sodat jy in hierdie dag gereed kan maak. As iemand dan gaan agterbly as Jesus kom, sal dit verseker nie God se skuld wees nie.
Daar is net een manier om gereed te wees wanneer Hy kom en dit is om nóú reg te maak – die Here Jesus met jou hele hart aan te neem as jou persoonlike Verlosser. En om dan reg te hou met God deur voortdurend met Hom te wandel en vir Hom te leef.
Luk. 12:39 – “Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter uur die dief sou kom, sou hy gewaak het en nie in sy huis laat inbreek het nie.” Net soos ‘n mens dan voortdurend moet waak oor jou huis, soortgelyk mag ek en jy nooit ons waaksaamheid verslap t.o.v. die koms van Jesus vir Sy bruid! Dis die voltooiing van ons grootste droom om in ewige geluksaligheid en volmaaktheid by Hom te wees! Hoe kan iemand dit mis!
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272
AS JESUS KOM OP DIE WOLKE (5)
Mat 25:10 “En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit.”
Hoeveel sal gereed wees as Jesus kom? Die Bybel gee nie vir ons ‘n getal of ‘n persentasie van die kerk nie. Maar slaan vir ‘n oomblik ag op my persoonlike berekening en siening. (Jy hoef nie met my saam te stem nie – hierdie is bloot my persoonlik siening en afleiding.)
PERSOONLIKE SIENING
As ons die kerk, en almal wat sê dat hulle aan ‘n kerk behoort, neem en uitdruk as 100%, moet ons nou verder vra: Watter persentasie van die kerk oor die wêreld is regtig gered? Ons weet mos dat nie almal wat aan ‘n kerk behoort en wat in ‘n sensus aandui dat hulle tot die Christelike geloof behoort, noodwendig ook aan die Here behoort nie. Dis soos die Woord sê van Israel (Rom 9:6): “want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie.“
Kerkgroei kenners beweer dat slegs ‘n skrale 5% is gered – het ‘n getuienis van wedergeboorte. M.a.w. slegs 5% van almal wat bloot sê: “Ek het my kerk” en “ek het my geloof,” kan getuig van ‘n dag en ‘n datum dat hulle persoonlik die Here Jesus aangeneem het as hul Saligmaker (Joh. 1:12). Skokkend min nie waar nie!
Ek meen verder (L.W. Dis my persoonlike mening) dat hierdie 5% is die tien maagde van Mat. 25. In Mat. 25:1-13 vertel die Here Jesus die gelykenis van die tien maagde wat uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet. Maagde in die Bybel tipeer altyd hulle wat rein van hart is en wat aan die Here behoort (Mat. 5:8). Al tien begin so mooi, dat ek wil aanneem, al tien staan hier vir hulle wat aan die Here behoort, wie gered is. Mag ek sê, dis die ware kerk. Maar dan wanneer die bruidegom in die gelykenis uiteindelik kom, is slegs die helfte van hulle gereed! Dit laat mens besef dat nie almal wat gered is, is noodwendig gereed wanneer Jesus gaan kom nie.
Daar is diegene wat reken dat wanneer Jesus kom, sal alle gelowiges deur Jesus opgeneem word hemel toe. Maar ek kan nie met hierdie siening saamstem nie n.a.v. Mat. 25 en vele ander waarskuwings in die Woord aan gelowiges om te waak en gereed te wees vir Sy koms. Dus, moet ons die bogenoemde 5% weer halveer en kom ons by ‘n 2½% uit die hele kerk, wat gereed sal wees as Jesus nou moet kom!
Of my persentasie reg is of nie, maak nie saak nie. Maar wat baie seker is; Jesus gaan weer kom en die Bybel waarsku dat ek en jy moet gereed wees en nie ons waaksaamheid verslap nie, omdat ons nie die dag en die uur weet, wanneer Hy verskyn nie (Mat. 25:13)!
GEBED
Here Jesus, reinig ons en heilig ons en help ons om nie ons waaksaamheid te verslap met die oog op U spoedige koms op die wolke nie! Amen!
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272



