@ at Malmesbury Business Directory

at-malmesbury-business-directory-logo

search-google 

As God vir ons is.

02-god-van-baie-kanse
AS GOD VIR ONS IS (1)

Dis net wonderlik hoedat Jesus toe Hy na die vlees nog op die aarde gewandel het, mense se onmiddellike behoeftes aangespreek het.

Wanneer Hy Homself vasgeloop het teen ‘n blinde bedelaar wat langs die pad gesit het, het Jesus in die man se onmiddellike behoefte voorsien. Mark. 10:46 – “En hulle het in Jérigo gekom. En toe Hy en sy dissipels en ‘n aansienlike skare uit Jérigo uitgaan, sit die blinde man, Bartiméüs, die seun van Timéüs, langs die pad en bedel.” Die man het uitgeroep na Jesus om hom barmhartig te wees, maar toe hy later by Jesus kom vra Jesus spesifiek vir hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En die blindeman sê vir Hom: Rabbónie, dat ek mag sien.”

Jesus het nie losgetrek en ‘n teologiese ingewikkelde preek afgesteek of gesê eendag “in the sweet bye and bye ...” Nee, Jesus voldoen aan sy versoek en help hom net daar in sy onmiddellike behoefte en genees sy blindheid.

Blaai maar deur die vier evangelies en dan kyk jy vir jouself: Elke keer as iemand met ‘n behoefte gekom het, het Jesus dit nie geïgnoreer met ‘n antwoord soos: “Onthou mense, Ek is nie hier vir aardse nood nie. Ek help net mense met hul geestelike nood.” Nee, Hy het die melaatses genees, die lammes genees, die duiwels uitgedryf ... almal genees. Hand 10:38 gee ‘n beknopte opsomming van Jesus se bediening: “Met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was.” (Daar is net die twee uitsonderings waarvan ek weet waar persone met selfsugtige versoeke gekom het, maar Jesus het nie daaraan voldoen nie. Die man wat gevra het dat die Here moes toesien dat die erfenis gelykop verdeel word (Luk. 12:13) en waar die moeder van Johannes en Jakobus vir haar seuns ere plekke in die hiernamaals wou hê (Mat. 20:21).

Natuurlik is die ewigheid ontsettend belangrik en is die redding van ‘n mens se siel van kardinale belang. Maar ek en jy leef nog hier op aarde. Ons het behoeftes wat nóú uitskreeu om vervulling!

Ek wil jou aanmoedig om die Here Jesus nóú te vertrou met jou onmiddellike behoefte. Kom, bid net daar waar jy is en met die geloof wat nou in jou hart gewek is deur die Woord, vra Hom in alle opregtheid dat Hy ook in jou nood sal voorsien.

 

AS GOD VIR ONS IS (2)

Gaan jy tans deur ‘n donker wolk?

  • Jou huwelik val uitmekaar uit?
  • Daar is finansiële kwelling.
  • Jou kind het van die huis weggeloop en jou laat weet, sy het haar intrek by die kërel geneem en sy is swanger.
  • Die siekte en pyne van ‘n jaar gelede het weer sy kop kom uitsteek ...
Wat voel jy in jou hart om van hierdie dinge te sê? Weet jy wat wil God hê moet ons van hierdie dinge sê? Dit wat staan in die tweede gedeelte van Rom 8:31 – “Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?”

As die huidige president van ons land nou daar by jou moet opdaag met ‘n groot swart staatsmotor met ‘n groot gevolg van hoogwaardigheids persone en hy stap by jou in en verklaar: “Luister ek het spesiaal gekom om vir jou te sê; ek is mét jou! Ek het jou spesiaal uitgekies om aan jou guns te bewys. Van hierdie oomblik af is al my magte en kragte as president van S.A. tot jou beskikking. Die weermag: leër, die lugmag en vloot is tot jou diens om jou te beskerm, sou jy enigsins in die nood verkeer. Die polisiemag staan gereed om jou by te staan. Die  intelligensie dienste is tot jou beskikking. Die staat se mediese dienste, die verkeersdepartement is daar vir jou op aanvraag en ‘n persoonlik lyfwag stel ek aan om jou te beskerm. Al die finansies van die staatskas lê gereed vir jou.” Hoe sou jy voel? (Kom gebruik nou jou verbeelding en gee jou gedagtes vrye teuels – speel bietjie saam.)

En toe jy by die huis uitstap ervaar jy, dit was nie ‘n droom nie. Net waar jy gaan, sien jy hoe die lyfwag van die staat om jou beweeg om jou op te pas en by te staan op al jou weë.

Wel, as kind van God het ek en jy ‘n baie beter rugsteun, want die Bybel sê die almagtige God, skepper van die hemel en die aarde is VIR ONS! D.w.s. die volgende hemelse dienste is tot ons beskikking:

  • Die hemelse weermag – “Die engel van die Here trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees.” (Ps. 34:8)
  • Die hemelse intelligensie dienste – “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid.” (Jak. 1:5)
  • Die hemelse finansiële dienste – “En my God sal in elke behoefte van julle voorsien” (Fil.4:19; Hag. 2:8).
  • En die hemelse mediese dienste – “Deur Wie se wonde julle genees is” (1 Pet. 2:24).
  • Jou persoonlike hemelse lyfwag – “Hy sal Sy engel aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë” (Ps. 91:11).
Watter probleem kan Hý nie die hoof bied nie?! En onthou; Sý bronne is onbeperk! 

 

AS GOD VIR ONS IS (3)

Vrees jy mense in jou lewe? Lees die volgende Bybelverse en kom tot die oortuiging dat as God vir jou is, hoef jy gee mens te vrees nie:

Ps. 118:6 – “Die HERE is vír my; ek sal nie vrees nie: wat kan ‘n mens my doen?”

Ps. 118:7 – “Die HERE is vír my as my helper; so sal ék dan neersien op die wat my haat.”

Kyk na die volgende bekende en mooi vers: 1 Joh. 4:4 – “Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.” Wie is hierdie “hulle” waarvan die teks praat? Gaan lees hierdie hele gedeelte deur op jou eie en dan sal jy sien daar word gepraat van die valse profete, die Antichris, die duiwel wat oor en in die ongereddes heers. D.w.s. hier is God se belofte dat Hy ons oorwinning gee oor alles wat nie van die Here is nie!

GOD AAN JOU KANT

As kinders het ons baie op ons eie by die skool gedurende pouses spanne gekies en span speletjies gespeel. As leier het jy altyd die beste ouens gekies om aan jou kant te wees. Ja, wie aan jou kant is maak beslis saak. Wie aan jou kant is, bepaal wie wen. Ek het altyd gewens dat “Superman” aan my kant kon wees. Kyk, dan maak dit nie saak wát ons speel nie, want dan wen ons elke keer met al sy bo gemiddelde vermoëns.

Dink nou net as ons darem vir “Superman” aan Bafana Bafana se kant kon hê ... dan wen ons vanjaar die wêreld beker. Nou die dag sê my kleinseun vir my: “Weet Oupa, Jesus is tog baie sterker as ‘Superman’.”

Het jy geweet dat God kan ook aan ‘n mens se kant wees? Baie sou sê: “Nee man, onthou daar is ‘n Skrif wat sê, Hy is nie ‘n aannemer van die persoon nie – so God is neutraal en meng nie in met ons dinge nie.

Twee persone in die Ou Testament het geweet dat God aan hulle kant was:
  • Jakob het geweet as hy aan Laban sê in Gen. 1:42 – “As die God van my vader, die God van Abraham en die Vrees van Isak, nie aan my kant was nie—ja, dan sou u my met leë hande weggestuur het.”
  • Dawid het ook geweet, want hoor hoe klink sy woorde (Ps. 56:10): “Dan sal my vyande agteruitwyk op die dag as ek roep; dit weet ek dat God aan my kant is.”
Neem jou stand, want die Here is aan my kant, Hy lei jou aan die hand!

 

AS GOD VIR ONS IS (4)

In die Bybel is daar twee gedeeltes wat feitlik woord vir woord, sin vir sin, komma vir komma en punt vir punt presies dieselfde is. En dit is Ps. 18 en 2 Sam. 22. Daarin wil ek kinderlik sien dat die Here baie seker wou maak dat ons van daardie waarhede, móét kennis neem!

En waaroor handel die twee identiese gedeeltes? Dawid, wat geweet het dat God aan sy kant was (Ps. 56:10), vertel hoedat hy in die moeilikheid was en na God geroep het en hoedat die Here hom te hulp gesnel het.

Dis die moeite werd om vanaf vers 4 tot vers 20 dit intensief te lees, omdat die wonderlikste beelde geskep word om te wys hoe verontwaardig en kwaad die Here was dat Dawid aangeval word en met watter krag en spoed die Here hom tegemoet gesnel het en hoe fel die Here met sy vyande gehandel het.

(Vers 5) Ons kan almal met Dawid identifiseer as hy sê: “Bande van die dood het my omring, en strome van onheil het my oorval.” Wanneer moeilikheid op ‘n mens toesak, voel dit die dood staar jou in die gesig.

(Vers 6) Dawid het reg deur sy lewe net één resep gehad wanneer moeilikheid op hom toegesak het en dit was om die Here aan te roep.

Vir die res van die Ps. is dit asof Dawid oorslaan na die sketse van die destydse T.O. Hannibal of die anamasie rolprente van Walt Disney.

Vers 9:  “Rook in sy neus het opgegaan, en ‘n vuur uit sy mond het verteer; kole uit hom het gebrand.” (Gebruik nou jou verbeelding en sien die prentjies.) Om Dawid se ontwil verander die Here nou om soos ‘n magtige monsteragtige draak te word met rook in sy neus en vuur in sy mond om Dawid se vyande by te kom. Iets soos die Leviatan (Ps. 74:14) wat ‘n seemonster of rivier slang was waarin die mense van die outyd geglo het. Soos daardie perde en hul pote van Walt Disney wat grond grawe en rook blaas, voordat hulle soos ‘n pyl uit ‘n boog vorentoe skiet. So stel die Ps. dit voor, snel die Here vir Dawid tegemoet.

(Vers 11) Met die spoed van die wind kom die Here op ‘n gérub (engel) aangevlieg en dis net duisternis van waters, diktes van wolke (vers 12) hael en gloeiende kole (vers 13), donder (vers 14), en weerligte (vers 15) en seewater wat spat sodat selfs die seebodem gesien kon word (vers 16)! En so pluk die Here vir Dawid uit die kloue van sy vyande, soos ‘n onoorwinlike Tarzan wat uit die top van ‘n boom met sy bobbejaantou op Jane afduik om haar uit die gevaar te red. Elke keer het die Here vir Dawid die oorwinning gegee (Ps. 18:38)!

Só sê die Woord, stry God vir elkeen aan wie se kant God is!!!

Is God aan jou kant? Indien nie; krý Hom dan aan jou kant! 

 

AS GOD VIR ONS IS (5)

Rom. 8:31 – “Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?”

As daar iets is om te begeer, dan is dit om God aan jou kant te hê soos Jakob (Gen. 31:42) en Dawid (Ps. 56:10) dit geken het. Hoe kry ek dan God aan my kant?

JY MOET IN CHRISTUS WEES

2 Co 5:17 – “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”

M.a.w. jy is gered, weergebore, kind van God – jou menslike gees is gewederbaar deur die werking van die Heilige Gees (Joh. 3:3, 5). Jy behoort aan die Here en jou naam is in die boek van die lewe (Open. 20:15). Jy het vergifnis ontvang vir jou sondes van die verlede. Jy het geregtigheid ontvang en is geregverdig deur die geloof in die kruisdood van Jesus as die Plaasvervanger vir jou sondes (Rom. 3:22, 24). D.w.s. jy staan blaamloos voor God die Vader deur die geregtigheid van Jesus Christus. 2 Kor. 5:21 – “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”

Dis die eerste stap en kan met niks anders vervang word nie. Dis moontlik dat jy elke dag selfs mag Bybel lees, bid en kerk toe gaan en godsdienstige aktiwiteite beoefen en tog nog nie weergebore is nie. Dit vra van jou ‘n dag en ‘n datum waarop jy ‘n doelbewuste ontmoeting met God gehad het en jy gebreek het met die ou lewe deur jou sonde voor God te bely (1 Joh. 1:9) en Jesus in jou lewe in te nooit as jou persoonlike Saligmaker (Joh. 1:12). Daar sonder het jy niks!

WANDEL IN GEREGTIGHEID

As ‘n tweede stap en voorwaarde om God aan jou kant te hê, beteken dit om ook in geregtigheid te wandel. D.w.s jy moet ook reg lewe. Jy moet ook die vrugte dra wat by die bekering pas (Mat. 3:8). Daar is ‘n lering vandag wat wil voorgee; as jy glo in Christus, dan kan jy maar leef net soos jy wil. Miskien kan ‘n mens ‘n teks of twee kry wat jy kan buig om dit voor te staan, maar die hele openbaring vanuit die hele Skrif dui daarop dat God haat ongeregtigheid.

As God dan vír my en jou is – vandag , nou – laat ons dan ophou om te klae:
  • Ag, as ek net dit en dat gehad het ...
  • Ag, as ek net nie so hopeloos was nie ...
My vriend, klae help niks nie! Kyk na jou Hemelse Vader. Hy is vír jou en aan jou kant op hierdie oomblik (in aggenome van genoemde voorwaardes), en jy kan met sekerheid aanvaar Hy sal jou help en voorsien sodat jy in niks sal kort kom nie! Bly wag en hoop op Sy uitkoms!

 

AS GOD VIR ONS IS (6)

Rom. 8:31 – “Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?”

BLOED GEKOOPTE REG

Geliefde in die Here, God het Sy Seun gestuur om vir ons te sterf.

  • Open. 5:9 – “Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie,”
  • 1 Pet. 1:18 – “omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,”

1 Pet. 1:19 – “maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,”

 Jesus het letterlik Sy bloed vir ons gegee. As kind van God het ek en jy ‘n bloed gekoopte reg tot:

  • ‘n Oorvloedige lewe. Joh 10:10 – “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”
  • ‘n Lewe van betekenis (significance);
  • ‘n Lewe met ‘n doel (purpose);
  • Goddelike gesondheid (Jes. 53:4; 1 Pet. 2:24) Ron Kussmaul het by geleentheid getuig dat hy daardie tyd vir die afgelope 21 jaar nooit siek was nie – nie eens ’n verkoue of griep nie. Hy leef in geloof sonder ‘n mediese fonds.
  • Dat God in al ons behoeftes sal voorsien. Fil 4:19 – “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.”

Ons het en geniet al hierdie dinge:

  • Nie omdat ons dit ooit kan verdien nie;
  • Nie regtig oor een of ander daad wat ons gedoen het nie;
  • Of omdat ons so goed is nie; maar a.g.v. God se groot liefde vir my en jou en op grond van die bloed van Jesus wat Hy vir ons gegee het wat ons in geloof aangeneem het. Al hierdie seëninge omdat God vir ons is!

Om die Here aan jou kant te hê; ‘n God wat vir jou is, is absoluut onbeskryflik wonderlik! Rom. 8:32 – Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?”

Ja, as God vír ons is, wie kan teen ons wees?

Epos Inval Gedagte Bediening

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

You are here: Church As God vir ons is.
schoemans-chartered-accountants die-courant