@ at Malmesbury Business Directory

at-malmesbury-business-directory-logo

search-google 

Almal

02-god-van-baie-kanse
ALMAL (1)
Mark 13:37 – “En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal ...“
Daar is ‘n paar gemeenskaplike faktore wat gelowiges met mekaar in gemeen het.
‘N WAG PERIODE
Dalk beleef jy dit tans in jou eie geestelike lewe.

Jy is gretig as kind van God om met iets groots in jou lewe te begin, maar dis asof al die deure net vir jou toe bly.

Jy is nie die enigste nie. Ander het dit voor jou beleef. Laat ek jou herinner; selfs ‘n persoon soos Moses het dit beleef. Opgelei in al die bekwaamhede van ‘n toekomstige Egiptiese koning:

Hand. 7:23 - “Het dit in sy hart opgekom om sy broers ... te besoek”

(vers 24) - “en toe hy sien dat iemand onreg aangedoen word, het hy hom verdedig en die man wat mishandel was gewreek deur die Egiptenaar te verslaan.”

(vers 25) - “En hy het gedink dat sy broers sou verstaan dat God hulle deur sý hand redding sou gee; maar hulle het dit nie verstaan nie.”

Hieruit kan ons aflei dat Moses geweet het dat God deur hom, die volk van Israel wou red. Hy het geweet daars ‘n roeping op sy lewe. Maar op daardie stadium het God hom nog nie gesê of beveel dat die uitvoering van sy roeping begin het nie. Hy het sélf na vore getree en wou uitvoering daaraan gee.

So, dit wys dat jou roeping en die dag dat jy daarmee moet begin, kan wyd uitmekaar lê. Vir almal van ons is dit ‘n baie groot frustrasie, want ons kan nie wag nie. Ons wil dadelik inspring net soos Moses aan die begin. Maar kyk net wat kom hy oor! Hy slaan ‘n man dood, wat nooit God se wil was nie.

Met 40 jaar se paleis opleiding was Moses nog nie geskik vir die groot taak nie. Daar het nog iets ontbreek nl. ‘n spesifieke karakter eienskap. Hy moes nog eers geduld en sagmoedigheid leer. Dit het hom nóg 40 jaar geneem in die woestyn van Midian agter sy skoonvader se skape.

Solank die deure nog vir jou toe is; weet dat jy in God se skool van opleiding is. Sterkte met jou opleiding! Mag jy vinniger as Moses vorder!

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

ALMAL (2)

Mark 13:37 – “En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal ...“

Daar is ‘n paar gemeenskaplike faktore wat gelowiges met mekaar in gemeen het.

‘N WAG PERIODE (vervolg) 

Elke gelowige gaan deur ‘n wag periode. Moses moes 80 jaar wag om uiteindelik met sy lewenstaak te begin nl. om die Israeliete uit Egipte te lei.

So ook moes Abraham, die vader van die gelowiges (Rom. 4:12) deur ‘n wag tydperk gaan. Op 75 jarige ouderdom het die Here hom geroep uit Ur die land van die Galdeërs met die wonderlike belofte dat God hom ‘n groot nasie sou maak (Gen. 12:2). Toe hy 100 was (Gen. 21:5), word Isak eers gebore. Vir 25 jaar moes hy wag en wag en wag ... In die periode het die Here hom ‘n paar keer weer dieselfde belofte gegee om hom te versterk. Maar ongeag dit, het hierdie wag tydperk later net vir hom te erg geword sodat hy geswig het vir die plan van sy vrou Sara om maar liewer ‘n kind by haar slavin te verwek (Gen. 16:2). Sien jy, selfs vir Abraham was die wag uiters swaar en foute is begaan.

Josef het gedroom hoedat sy broers se gerwe voor sy gerf buig (Gen. 37:7) en dan weer hoedat die son, maan en elf sterre voor hom buig – dis nou sy ouers en 11 broers (Gen. 37:9, 10). Wagtende moes hy deur die lewe gaan. Hy was o.a. in die tronk waar hy vir 11 jaar (Dake’s) onregverdig opgesluit was. Toe moes hy nog 2 jaar in die tronk wag omdat die skinker van hom vergeet het. Dertien jaar in totaal! Ps. 105:19 - “Tot op die tyd dat ... die woord van Here hom beproef verklaar het” sodat uiteindelik sy droom vervul is toe hy onder-koning van Egipte geword het en sy broers regtig voor hom kom buig het.

Moenie van Dawid vergeet nie. Hy is drie keer gesalf as koning. Eers deur Samuel toe hy nog as seun sy vader se skape opgepas het (1 Sam. 16:13). Daarna in Hebron oor die 2 stamme wat hom lojaal was en later oor die hele Israel (2 Sam. 5:3). Vanaf die eerste salwing tot die derde salwing kon maklik 20 jaar verloop het. Maar dit was die moeite werd om te wag totdat God hom verhef het!

En wat van Paulus – sy voorbereiding en opleidings fase het ook oor etlike jare gestrek – drie jaar in Arabië (Gal. 1:17, 18) en 11 jaar in Tarsus (Hand. 9:30). Jy is verseker nie die uitsondering nie. Wag rustig op die Here en kry jou opleiding agter die rug, want die Here het ‘n heerlike taak vir jou!

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

ALMAL (3)

Mark 13:37 – “En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal ...“

BEPROEF OF GETOETS

Ek glo dat elke kind van God word op ‘n stadium getoets of beproef. God Self lê die toets aan om te kyk of ek en jy kwalifiseer vir bevordering. Dis net soos op skool of in ‘n naskoolse opleidingsentrum. Toetse en eksamens is daar om te bepaal of jy kan aanskuif na ‘n volgende graad of jaar.

God het vir Abraham op die proef kom stel. Gen. 22:1 – “Ná hierdie dinge het God Abraham op die proef gestel en aan hom gesê: Abraham! En hy antwoord: Hier is ek!”

Gen 22:2 – “Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys.”

Dis darem ‘n allerverskriklike toets! Wie van ons wat kinders het, sou hierdie toets kon slaag? Ek is maar net baie eerlik as ek vandag bely: “Ek weet nie of ek sou kon nie …”

Maar kyk ons na Abraham, dan sien ek nie een keer dat hy die Here bevraagteken het nie. Of dat hy nie kans gesien het of dat hy vrae gevra het of die Here dit regtig bedoel het. Daar is geen teken van enige onwilligheid by hom nie. Vir ons wat die uitkoms van die verhaal ken, is dit mos nou maklik om te sê: “Ja, maar onthou op die ou end is Isak nie geoffer nie.” Abraham het nie dit geweet nie. Hy het voorbereidings getref en alles gedoen met die oog om sy enigste kind vir wie hy 25 jaar gewag en gehoop en geglo en planne gemaak het, te gaan offer. In die hele verhaal in Gen. 22 het Abraham net twee keer gepraat. Telkemaal was dit ‘n sinnetjie van net drie woorde – presies dieselfde woorde (Gen. 22:1, 11): “Hier is ek!” M.a.w.: “Here, ek is gewillig.”

Met mes omhoog om die doodsteek in Isak se hart te gee, stop die Here net daar vir Abraham. En hoor nou wat sê God aan Abraham (Gen. 22:12): Nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.” En dan volg al die wonderlike beloftes (vers 17, 18 – lees dit asb.), omdat Abraham die toets geslaag het!

Die toets wat ons seker die meeste moet skryf en seker ook die meeste kere nie slag nie, is die toets van getrouheid. Getrou in die binnekamer, getrou aan die beloftes teenoor die Here en ander ens.

Nog in hierdie dag gaan jy daardie toets skryf. Mag jy slaag ... en bevordering ontvang!

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

ALMAL (4)

Mark 13:37 – “En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal ...“

 VERSOEK

Verseker word elke kind van God versoek. Wie versoek ons en wat is die doel van versoeking?

 Jak. 1:13 – “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.” Hieruit is dit duidelik dat God versoek nie die mens nie. Die 1983 Vertaling in Afrikaans het die woord “versoek” vervang met “verlei.” Jak 1:13 (ANV) – “Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: ‘Ek word deur God versoek’ nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie.” Hieruit is dit net nog meer seker dat “versoeking” is nie God se werk nie, want die Here sal tog nie iemand verlei nie, maar dit is die duiwel se werk.

In Mat 4:3 word die duiwel sonder om doekies om te draai as die versoeker voorgestel: “Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: ‘As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.’" (Sien ook 1 Thess. 3:5.) Die duiwel het mos maar net een doel voor oë en dis om ‘n mens te laat val en op die ou end te vernietig. Dus, die antwoord op die vraag aan die begin: Die duiwel versoek ons en sy doel is om ons te degradeer en af te druk. U sal onthou in die vorige skrywe het ons net mooi die teenoorgestelde gehad waar ons aangetoon het dat God stel op die proef of toets ons met die doel om ons te verhoog sodra ons die toets geslaag het. Sien jy: Die Here is nét goed en die duiwel is nét sleg!

 Nou kom Dawid in Ps. 142:4 en sê: “Op die pad wat ek moet gaan, het hulle ‘n vangnet vir my gespan.” Hy het ook geweet die duiwel laat niemand met rus nie. Die versoekings, verleidinge en strikke wemel op elkeen se pad vorentoe. Iemand sê vir my: “Ek dank die Here dat ek nie ‘n tiener in vandag se tyd is nie met al die versoekinge van die duiwel. Dis “drugs” en pornografie en groepsdruk en al wat ‘n boosheid is waaraan hulle blootgestel word.”

 Daarom die man of vrou of seun en dogter wat dit durf waag om in die môre uit sy huis te gaan sonder dat Hy die Here aangeraak het in sy binnekamer, moet weet hy of sy is in vir ‘n ding! Die versoekinge, verleidinge en vangstrikke lê en wag en is klaar gestel ...

 Maar dank God, Pred. 7:18 sê: “Die wat God vrees, ontkom aan dit alles.”

 Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

ALMAL (5)

VERVOLGING

2 Tim. 3:12 – “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.”

Jy sien daar is twee koninkryke. Dié van die lig en die van dié duisternis. En dié van die lig wat aan Christus Jesus behoort, praat en doen nie dieselfde terme as dié van die duisternis en wat aan die duiwel behoort nie. Hulle leef en staan nie vir dieselfde dinge nie. Hierdie stryd gaan terug tot by die dae van Kain wat vir Abel dood gemaak het en dit sal voortduur totdat die duiwel en sy trawante in die poel van vuur gewerp is. Paulus skryf in Gal. 4:29 – “maar soos destyds hy wat na die vlees gebore is, hom wat na die Gees was, vervolg het, so is dit nou ook.”

Geen kind van God moet dink hy of sy kan dit vryspring nie. As jy regtig uitstaan vir Jesus en jy dit jou erns maak om alles te doen presies soos wat Jesus gesê het, sal jy óók een of ander vorm van vervolging ervaar. As jy nie ‘n mate van vervolging smaak (spot, veragting, diskriminasie, uitsluiting) deur die vyande van die kruis, moet jy eintlik onrustig word ..

  • Josef se voete is in boeie geknel (Ps. 105:18).
  • Daniël is in die leeukuil gegooi (Dan. 6).
  • Jeremia het in die modderput beland (Jer. 38:6).
  • Johannes die Doper se kop is afgekap (Mark. 6:27).
  • Paulus is deur die Jode vervolg soos ‘n bok wat deur ‘n trop wilde honde gejag is (Hand. 9 tot hoofstuk 28).
  • Jesus het hulle gekrusig.
  • John Bunyon het in die gevangenis beland.
  • Harralan Poppof was 13 jaar in die Siberiese strafkamp waar hy die uitsterste onmenslikste behandeling ontvang het, omdat hy ‘n bedienaar van die evangelie was en geweier het om van sy geloof in Jesus Christus afstand te doen.
  • John Alexander Dowie is gearresteer en tronk toe gestuur omdat hy vir die siekes gebid het en hulle gesond geword het (1895). Die klag teen hom: “Practicing medicine without license.” Hy is in een jaar 100 keer hiervoor gearresteer.
  • So ook Jack Coe (1956) ‘n tent evangelis wat vir die siekes gebid het.
Die Here Jesus het gesê (Joh. 15:20): “As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg.” Maar my troos is (Mark. 10: 29, 30): Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie, of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, saam met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige lewe.” Halleluja! 

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

You are here: Church Almal
schoemans-chartered-accountants die-courant