Stef Kruger met 'n Wynproe deur Swartland Wynkelder Featured

07-steff-krugerMet meer aso 400 liedjies op sy kerfstok, is Stef Kruger een van Suid-Afrika se besigste liedjieskrywers met stringe treffers agter sy naam. Al het talle van die bekendste Afrikaanse kunstenaars sy liedjies opgeneem, tree Kruger met sy jongste album, Skilder jou liefde, daadwerklik in die kollig om sy merkwaardige musiektalent ten toon te stel.

Kruger is 'n musikale woordsmid soos min en die pa van liedjies soos Pennies op die spoor, Grassade in die wind en Tussen jou en my wat hy nou met sy vertroetelende fluweelstem vir die nuwe album opgeneem het. "Ek wil net graag hê die mense moet hoor hoe die liedjies klink soos ek dit oorspronklik geskryf het. Mense is geneig om te dink alle sangers skryf hul eie liedjies. Na 35 jaar in die bedryf en nadat Dozi al 56 van my liedjies opgeneem het, is daar nog mense wat nie weet dat ek dit geskryf het nie."

Al die liedjies op "Skilder jou liefde" is al voorheen deur Dozi opgeneem, behalwe "My wortelwêreld," wat die enigste nuwe skepping op die album met sy 14 snitte is. Hoewel hy in Springfontein in die Vrystaat gebore is, handel "My wortelwêreld" oor Kruger se grootwordjare in Philippolis.

Kruger beskryf die album en musiek as "rustig, eerlik, eenvoudig, opreg en net lekkerluister-musiek met 'n akoestiese klank". Dié musiek is 'n toonvenster van sy talent wat hy al vir langer as drie dekades slyp. Hy was vir 25 jaar lank verbonde aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens se vermaaklikheidseenheid waar hy tromme gespeel het, maar het ook sy musiekeksamen op die dwarsfluit afgelê.

Die musiekgogga het hom egter al kleintyd gebyt. "Vandat ek kan onthou, het ek my suster se "grammaphone" gegaps en so op my eie na al haar plate geluister en bokse rondom my gepak sodat ek op die bokse trom kon speel saam met die plate."

Nes Kruger emosie, musiek en woorde met breë, kleurvolle kwashale van sy Godgegewe talent skilder, het Portchie die omslag vir die album geverf. Die helder kleure van die Portchie-skildery is die ideale inleiding tot die diepte en warmte wat Kruger aan sy luisteraar bied.

Om liedjies te skryf – wat veel meer is as net digterskap, want 'n liedjieskrywer moet ook musiek kan skryf – is vir Kruger meestal sonder moeite. "Dit gebeur net. Ek word wakker met 'n melodie, dan kom die woorde. Dit is vir my soos om asem te haal. Dit moet net gebeur. Ek kan nie daarsonder nie."

Kostes: R100.00pp (Bringe eie eetgoed saam)
18h00 - Deure open
19h45 - Wynproe
19h30 - Vertoning deur Stef Kruger

Wynproe aangebied deur die Keldermeester Andries Blake van Swartland Wynkelder word vanaf 18h45 aangebied
Hy gaan vir ons ietsie ouds, ietsie nuuts, ietsie tradisioneels laat proe!!
Daar sal wel glase wees en 'n wyntjie op die tafel om saam met die vertoning te geniet.

Slegs 120 sitplekke beskikbaar in teater. Almal sit om tafels en jy is welkom om jou eet- en drinkgoed saam te bring. Indien julle 'n groep is en 'n tafel (4 en 6 persone) wil bespreek is julle welkom. Vooraf besprekings is noodsaaklik. Reëlings kan getref word met afhaal of oorbetaal van kaartjies.

Etes en gesellig saam verkeer is vanaf die deure open tot die vertoning begin en dan vra ons dat mense gedurende die vertoning hulle plekke inneem en rustig na die vertoning sit en luister en almal is welkom om na die vertoning weer heerlik saam te kuier.

Daar sal ook kaartjies beskikbaar by wees by Superfoto.

Telefoniese besprekings kan gedoen word by: 022-4872000 of u kan ook kaartjies kom koop by Hofstraat 10, Malmesbury (naby Malmesbury Kwekery). Kaartjies kan by die deure afgehaal word, bespreek asb net vooraf.

Ons bring die teater

Teater Groete!
Hetta Saunderson

Tel: 022-487 2000
Fax: 022-487 1000
Cel: 082 920 3444
www.m4events.co.za

Malmesbury Advertising