Musikale Soiree

Musikale Soiree Nileta Knoetzen

Vir die wat gewonder het wat die woord Soirèe beteken; dis ‘n sosiale bymekaarkom geleentheid wat een spesifieke doel voor oë het.

Malmesbury Toerisme het Sondagaand, 17 Februarie in die NG Kerk Moedergemeente ‘n musikale samekoms gehou vir enigeen wat wil kom terugsit en betowerende orrelmusiek geniet. Wendy Flemming het die aand geopen met haar vingers wat oor die klawers gly. Drie van ons plaaslike musikante, Carina Zöllner, Carolie Strydom en Bianca Turner, het ons daarna bekoor met harmonieuse klanke deur die orrel, ’n viool en ‘n dwarsfluit.

Die NG Kerk Moedergemeente, is een van ons dorp se historiese erfenis geboue en die orrel wat tans in die kerk gebruik word, is 75 jaar oud.  Die bestaande orrel is die 5de orrel sedert die bestaan van die kerk asook die een wat die langste in werkende toestand is.

Ek kan my elke keer verstom vir die argitektuur van die karaktervolle wit kerkgebou!  Elke uitgekerfde stukkie hout, elke krul en draai, is met die fynste tegnieke gedoen.  En buiten die kerkgebou,is die orrel ook ‘n historiese wonderwerk.  Die orrel  het  1818 pype waarvan 600 daarvan vierkantige houtpype is. Die orrel werk d.m.v.  lugdruk wat deur elektriese strome beheer word.  Soos die klawers gedruk word, gaan die kleppe oop en toe in die windkaste en dit laat die orrelpype ‘praat’.

Dit was vir hierdie rede dat Malmesbury Toerisme besluit het om een keer ‘n kwartaal so’n musikale Soirée te hou. Twee van die kere word ons plaaslike musikante gebruik en die ander twee kere gaan daar musikante wees wat toegespits is op die speel van ‘n orrel.

Van die gemeentelede het as deel van ‘n woekerprojek, vooraf ‘n lafenis en eetdingetjie aangebied in die kerk se tuin. Pragtige gedekte tafels, heerlike eetgoed en lekker samesyn het baie goed gegaan saam met hierdie musikale bymekaarkoms.

Vir verdere navrae oor wanneer die volgende Musikale Soirée aangebied sal word, kontak Malmesbury Toerisme (022 487 1133) en kom geniet een van die skatte in ons dorp saam met ander gemeenskapslede.

Malmesbury Advertising