Laerskool Swartland Interkleure Atletiek 2013

As ouer met sy oudste en eerste in graad 1, was ek natuurlik daar om steun te gee aan my blompot. En terwyl ek daar rondstap, wonder ek wat so gedoente aan jou kind doen. Jy sien, my blompot is 'n dierbare kind van vele kleure en geure maar pappa is darem ook nie blind vir sy blompot se atletiese tekortkominge nie.

Ekself was darem ook nie Olimpiese gehalte nie en het nie deel gevorm van die voorste klomp in elke resies nie. Nooit het ek die voorreg gehad dat een of ander tannie my vang aan die einde van 'n wedloop nie. Nee, teen die tyd wanneer ek gewoonlik opgedaag het, was almal gevang wat gevang moes word en dan staan jy maar so bietjie simpel rond en loop dan maar verder.

Ek wil darem sê dat my talente, die wat ek gekry het, nie op die atletiekbaan rongelê het nie, maar eerder op ander sportvelde. My blompot se talente moet ons nog soek, maar wat ek wel vandag gesien het, is dat haar talent ook nie êrens wegkruip op die atletiekbaan nie.

Wat my wel baie trots gemaak het, is dat sy kans gesien het om 'n tweede keer te hardloop nadat die eerste 60m nie boaan haar top 3 beste oomblikke van haar eerste skooljaar sal tel nie. Die tweede wedloop van 300m was maar lank, maar hierdie is nie Hollywood nie en daar was nie 'n sprokies einde nie.

Sy het weer onder die laastes klaargemaak, maar sy het klaargemaak. Sy het sterk gestaan en gedoen wat hulle van haar verwag het; alhoewel pappa en mamma vir haar gesê het dat sy nie weer hoef te hardloop nie. Die jaar het skaars begin en die wedywer tussen die ouers is reeds daar.

Help my dat ek my blompot deur haar skoolloopbaan kan neem, met net genoeg aanmoediging sodat ek nie meer druk op haar sit as wat kinders deesdae moet ervaar nie. Help my dat ek haar help om net so bietjie beter as haar vermoëns te doen en nie beter as die van ander nie.

En natuurlik help haar om te besef dat almal 'n plekkie in die son het, al is dit nie op groen gras tussen wit gekalkte lyne nie.

Malmesbury Advertising