Dink anders oor jou liggaam

Meeste van ons veg ‘n verbete stryd om van ons oortollige rolletjies en bulte ontslae te raak. Die probleem is egter dat ons almal in dieselfde ou dieetplannetjie wat elke keer maar weer misluk vasval.

Ons spring dan verbete weg en verhonger onsself, oefen dat jou longe uithang en gou baie blitsig weer tou op. Wat is dan verkeerd hiermee?

Presies dit……Jy het weggespring sonder om regtig daaroor te dink en sommer dadelik jou arme liggaam oorgegee aan die ergste marteling. Ag nee mens, met so ‘n vae doelstelling en amper lukraak ingesteldheid lê die probleem juis daarin dat enige mens sommer gou gou tou sal opgooi.

Jy mag nou dink, “en wat is dan fout met hierdie benadering”? Wel, ek dink die rede waarom meeste mense nie hul doelwit om gewig te verloor bereik nie, is juis omdat hulle net fokus op die fisieke aspek. D.w.s. hulle is net ingestel op wat hul nie meer mag eet of drink nie en dan hoe hard hulle gaan oefen. Hulle het nooit besef dat daar iets belangriker is waaraan hulle eerste moes aandag gee nie.

MAAK ‘N KOPSKUIF

Jou hele wese moet ingestel – inlyn wees met jou voorneme!

Dit is so belangrik dat, indien ek en jy gewig wil verloor dat daar eers ‘n ‘kopskuif’ gemaak moet word. Jou hele wese (gedagtes, wil en emosies) moet daarop ingestel wees om gewig te verloor en alles wat jy dink, doen, voel en besluit moet in lyn wees met jou nuwe manier van eet, gesond leef en oefen.

HIER IS ‘N PAAR WENKE WAT JOU OP DIE PAD NA ‘N GESONDER LIGGAAM KAN HELP:

1. DINK NUUT EN ANDERS OOR  JOUSELF EN DIE LEWE

  • Watter negatiewe oortuigings en idees het jy oor jouself?
  • “Limiting beliefs”  knip jou vlerke en jy sal nooit regtig kan vlieg nie.
  • Wat sê jy vir jouself oor jou eie liggaam? Klink hierdie vir jou bekend?  “Ek is te dik,”  “Ag, Ek is net frisgebou”, of “Ek sal tog nooit maer wees nie”.
  • Indien jy jouself leer om ‘n positiewe ingesteldheid oor jouself te hê is jy besig om jou brein te leer  om anders na die liggaam te kyk en anders te begin dink en glo oor homself.
  • Onthou : The body follows where the mind goes. “Train” jou brein om anders te dink!  Dit sê sommer so lekker!

 

WAT STAAN JOU TE DOEN?

  • Gaan skryf al jou negatiewe dinkpatrone neer. (Ek hou nie van my dik bene nie)
  • Verander dit in positiewe stellings. (Ek is dankbaar dat ek bene het. Hulle dien my goed).

REDE:

Wanneer jy jouself in ‘n ander lig begin sien, begin jy sommer beter oor jouself te voel, jy ontwikkel selfvertroue en voel gemotiveerd om sukses te behaal.

ONTHOU:

Negatiewe denke is ‘n snelstrik om jou in ‘n gat van mislukking te trek!

 

2. VERVANG OU NEGATIEWE SELFGESPREKKE MET POSITIEWE UITSPRAKE (AFFIRMATIONS)

Het jy geweet  jy kan jou brein flous. Jy gebruik as’t ware jou brein om jou brein te flous. Oulik nê?

Wat is ‘n Positiewe uitsprake of verklaring?  Dit is om iets as die waarheid vir jouself te sê, bv. “Ek weeg 60 kg. Ek is goed gebou, Ek is maer. Ek is in staat om gewig te verloor. Ek kan gesond eet en wees”.

As jy dit gereeld vir jouself sê, begin die brein dit te glo en hy stuur daardie boodskap na die liggaam deur en die liggaam trek homself in lyn met hierdie boodskap.

Na ‘n tyd begin ‘n normale denkpatroon word.

Skep vir jou jou eie positiewe uitsprake wat jou doel ondersteun. Skryf dit neer – jy doen, jy sien en nou gaan jy di took vir jouself sê. Span al jou sintuie in!

Sê dit elke oggend en elke aand. Kyk in die spieël – al voel dit simple. Doen dit. Jy is besig om ‘n nuwe gedragspatroon vas te lê.

Sê dit in die teenwoordige tyd, “Ek lyk fantasties en ek pas in my 34 Jean. Ek voel energiek en lus vir die lewe. Ek maak ‘n sukses van alles wat ek aanpak”.

Maak jou eie persoonlike woorde op.  Bv. Ek is uniek en pragtig geskape. Ek is tot enige iets in staat en ek bereik my doelwit om gewig te verloor met gemak en selfvertroue.

 

3. VISUALISEER (SIEN ‘N PRENTJIE ) JOUSELF IN ‘N NUWE GEDAANTE

  • Skep ‘n helder en duidelike prentjie in jou gedagtes van dit wat jy wil bereik.
  • Span jou sintuie in en verbeel jou hoe jy sal voel as jy dit bereik het.
  • Hierdie is ‘n baie suksesvolle manier van dink. Dit is reeds oor en oor op die sportveld bewys.

(Ek het gelees van navorsing waar hulle ‘n klomp basketbalspelers geneem en in twee groepe ingedeel het. Die een groep het elke dag vir ‘n uur lank geoefen om die bal in die mandie te gooi. Die ander groep het elke dag op hul beddens gelê en visualiseer hoe hul die bal in die mandjie gooi. RAAI WIE HET BY DIE OEFENSESSIE DIE BESTE RESULTATE GETOON?  Jy is reg! Die groep wat lekker op hulle beddens gelê en “mind movies” kyk het. J

  • Beste tyd om dit te doen? Vroeg in die oggend en saans voor jy aan die slaap raak.
  • Sien jouself waar jy iets doen wanneer jy reeds jou doel bereik het. Wat doen jy, wat sien jy, hoe klink jy, hoe kyk mense na jou, wat hoor jy?
  • Dit stimuleer jou onderbewussyn om maniere te begin vind om by die prentjie aan te pas en te wees wat jy vir hom wys. (Onthou die brein kan nie onderskei tussen realiteit en prentjies nie –  hy dink dit wat hy sien is waar)

4. MAAK VIR JOU ‘N PRENTEBORD (VISION BOARD)

  • Herinner jouself aan  wat jy wil bereik en hoe jy wil lyk.
  • ‘n Prentebord gooi jou as’t ware in ‘n toekomstige situasie en dit word ‘n magneet wat jou heeltyd trek om daar uit te kom.
  • Sit dit op ‘n plek waar jy gereeld daarna kan kyk.
  • Sny bv. prentjies uit van hoe jy wil lyk, wat jy sal doen .
  • Maak dit ‘FUN” , vol vrolike prentjies, woorde en motiverend.
  • Jy moet sommer lekker voel as jy daarna kyk.
  • Kyk gereeld daarna en geniet die gevoel wat jy ervaar wanneer jy jouself in daardie situasie beleef.
  • Span jou sintuie in: Sien, voel, hoor, ervaar, glo en wees!

 

5. VOED JOU ‘INNERLIKE’ MET GESONDE INLIGTING. Rubbish in, Rubbish out!  Wees baie versigtig oor dit wat jy in jou ‘binnewêreld’ toelaat.

  • Waarna luister jy, waarna kyk jy, Wat lees jy, met wie hang jy uit? Wie laat jy toe om jou te beinvloed?
  • Net soos ‘n mens ‘n gesonde eetplan moet volg, is dit belangrik om ‘n gesonde en gebalanseerde voedingsplan vir jou  brein en innerlike mens te volg.
  • Lees opbouende boeke, leesstof, veral biografieë van mense wat sukses behaal het op die terrein waar jy sukses wil behaal.
  • Omring jouself met mense wat jou kan ondersteun en help om jou doel te bereik.
  • Word deel van ‘n ondersteuningsgroep waar mense mekaar ondersteun en moed inpraat.
  • Vermy negatiewe mense of mense wat teen jou doel werk.
  • Maak seker dat dit wat jy deur jou sintuie inlaat om jou te beinvloed, in lyn is met jou doelwit.
  • Omring jouself met mense en dinge wat jou help om jou doel onderskryf

6. NEEM AKSIE

Dit is alles goed en wel om ‘n goeie voorneme te hê of ‘n droom te hê,  maar onthou, mens moet wakker word, uit die droom kom en begin doen.

Sonder enige aksie  is al die bg. wenke van nul en gener waarde.

Dus, lig jouself uit jou kussing en begin iets daadwerklik te doen.

TER OPSOMMING

  • Stel vir jou doelwitte om jouself te motiveer (kry iemand om jou te help) – wees accountable.
  • Werk met ‘n plan, gaan praat met ‘n dieetkundige, kry vir jouself selfs ‘n persoonlike afrigter.
  • Stadig maar seker het die resies gewen (haas en skilpad)
  • Eet gesond en oefen gereeld.
  • Meet jou vordering – hou ‘n kosjoernaal, weeg jouself gereeld, meet sentimeters.
  • Slaap genoeg!

 

Malmesbury Advertising