Sakekamer Vrou-aand met Leilani le Roux

Woensdag,13 Augustus, het Leilani Le Roux die sakekamer se vroue-aand kom toespreek oor haar ervarings tydens die 2004 tsunami toe sy en haar man op wittebrood was. Die aand was geborg deur ROLA MALMESBURY wat jaarliks die vroue-aand borg en die sakekamer wil net weer dankie sê daarvoor.

Ek het so ‘n paar aantekeninge gemaak oor wat sy vir ons vertel het, maar dit is nie regtig iets wat mens maklik as tweedehands kan oorvertel nie, maar soos die Engelsman sê... here goes...

Sy het begin deur te sê dat sy ’n “L” vormige letsel oor haar bors het wat loop tot by haar sy, maar dat sy nie skaam is daaroor nie, want vir haar staan dit as Leilani Leef in Liefde.

Hulle sou die 27ste Desember trou, ’n dag na die tsunami. Die dag toe hulle land, het hulle hotel hulle op die lughawe vergeet. Haar man het op sy unieke humoristiese manier  toe vir haar gesê dat die troue nie moet gebeur nie en dat daar groot crap kom.

By die hotel was hulle villa reg voor op die strand en die see was letterlik amper op hulle stoep. Die aand van die 23ste het hulle gaan uiteet en sy het kreef geëet. Terwyl sy die kreef oopbreek, het haar man weer geskerts dat as sy die kreef so breek, gaan die see haar môre kom haal.

Hulle het laat gelê die oggend na hulle kuier die aand. (Sy wil darem sê dat hulle wel al die 11de Desember by die huis getrou het,om als reeds wettig te maak en paspoorte in orde te kry.)

Om half nege die oggend, terwyl hulle nog in die bed gelê het, was daar net grys ’n massa voor hulle en sy dog toe dit brand. Die volgende oomblik breek die brander deur hulle glasvoordeur en druk haar man deur ‘n klein venstertjie in die agterkant. Sy was nog binne en het gegil dat sy gaan verdrink.

Sy is toe ook deur die venster en sy en haar man was toe op die dak. Toe kom die volgende brander en hulle is uitmekaargeruk. Als gebeur baie vinnig en jy dink jy verdrink terwyl die water jou teen goed, karre, takke en lyke rondmaal.

Sy gryp toe aan ’n stuk boom wat sy in die hande kry, maar die water druk haar toe teen ‘n afgebreekte tak vas sodat deur haar bors druk. Op daardie stadium begin sy haar bewussyn verloor en onthou hoe sy haar laaste sug gegee het en net vir Jesus gevra het om haar sondes te vergewe.

Sy het weer haar bewussyn gekry en bevind haar toe bo in ’n tak van ’n boom en sy hoor net hoe gil en huil mense en sien hoe die lyke rondom haar rond dryf. Sy besef toe sy moet uit die boom en begin toe in Afrikaans “help my” te gil.

’n Chinese man wat reeds sy vrou en kind verloor het, help toe vir haar. Almal was op daardie stadium naak, want die water het als afgeslaan. Sy hoor toe haar man en besef hy leef nog en hulle help haar uit die boom waar sy oor ’n vrou wat reeds dood was, moes klim.

Daardie tyd skree die mense net “run, more water” en duisende mense hardloop die hoogtes in. Sy vertel hoe haar wonde oop was en hoe die velle gewapper het terwyl sy poedelnakend gehardloop het. Hulle het toe iemand gekry met motor en ’n klomp van hulle klim toe saam in met een vrou wat haar regterarm verloor het.

Haar man het toe op ’n stadium die bestuur werk gedoen en toe sê die vrou, wie se motor dit is, hulle moet uitklim want haar man ry haar nuwe motor te vinnig. Hulle hardloop toe verder die heuwels in en sy kon net al die geluide van die helikopters en mense hoor.

Op daardie stadium sê sy dat sy nie meer kan nie en dat sy nou bietjie gaan lê en hulle moet haar kom haal en voel toe hoe sy in koma gaan terwyl sy blind word en nie meer kon praat nie en weggaan.

Sy vertel toe hoe sy hemel toe is en by ‘n engel figuur se voete lê by Jesus en hoe rustig en warm sy gevoel het en die vrede wat sy ervaar het en dat sy nêrens anders wil wees nie en hoe gelukkig sy was. Sy sê Jesus het vir haar gesê dat hy plan het met haar en dat sy nog moet leef.

Op daardie stadium raak sy wakker en neurie die liedjie, Jesus is wonderbaar vir my. Die Chinese man sê toe vir haar man dat sy happy is maar haar man dink toe sy is besig om dood te gaan.

Daar kom toe ’n lorrie verby wat op pad is na ‘nhospitaal en orals klim die mense net op en oor mekaar en hang net aan dit om geleentheid te kry. Die middag by die eerste kliniek was daar georganiseerde chaos en die lyke lê orals langs die pad soos dit daar afgelaai word.

Hulle het toe net vir haar drip gegee buite want daar was nie plek binne nie. Weer het hulle ‘n geleentheid gekry op ‘n bakkie op pad na ‘n tweede kliniek en terwyl hulle ry, probeer hulle die drip inkry en steek haar arm blou soos hulle die aar probeer raak druk. Iemand het ‘n bottel vodka gehad en sy vat sluk vir die pyn en dan gooi hulle dit oor haar wond om skoon te maak en sy onthou hoe dit gebrand het en dan vat sy weer ’n sluk.

By die derde hospitaal is hulle afgelaai en daar het toe ook al honderde lyke rondgelê. Hulle deel toe kaartjies uit met “l” vir local en “f” vir foreigner. Soos die mense doodgaan bring hulle die lyke uit en beweeg jy na binne soos plek beskikbaar word.

Die kos was op daardie stadium op en dan voel sy net hoe iemand ’n stukkie lemoen in haar mond druk en dan voel sy weer haar boud brand as iemand verbykom en haar inspuiting gee. Dit was toe reeds die derde dag en sy was nog steeds kaal, maar sy beklemtoon,dat jy net eenvoudig nie worry nie.

Haar man kry toe rolletjie pleister in die hande en plak toe vir haar rompie daarmee. Sy kan onthou hoe dit van die seerste was toe sy dit uiteindelik afgetrek het. Hulle hoor toe daar is klere afgelaai in die parkeerarea en sy het haar man gevra om vir haar klere en onderklere te kry.

Hy kom toe terug met ‘n onderbroek en sy baklei met hom  daaroor en sy jaag hom om vir haar vroue onderklere te gaan soek. Hulle het darem later lekker daaroor gelag dat hulle oor so iets baklei het. Sy het toe vriende gemaak met Sweedse vrou wat langs haar gelê het.

Die Sweedse vrou het toe ‘n plakker gekry en hulle hoor toe dat hulle die Sweedse mense gaan ontruim. Die vrou gee toe vir haar haar plakker want sy besef dat sy meer hulp nodig het. Hulle is toe ontruim met die ander Sweedse mens en uitgevlieg Bangkok toe. Dit was toe die Donderdag na die Sondag.

Sy vertel hoe mooi die hospitaal was en dat hulle baie hulp gehad het en ’n span mense wat toetse op haar gedoen het. Sy maak toe fout om Afrikaans te praat met haar man en die dokter vra toe vir haar waarvandaan sy kom, sonder om te dink, sê sy toe Suid-Afrika.

Die dokter sê toe als moet stop en sy moet uit, want wie gaan betaal. Terwyl haar man dinge probeer uitsorteer het sy net gebid vir hulp. Op daardie stadium kom haar swaer daar ingestap, wat oorgevlieg het om vir hulle te kom soek. Hy het toe klomp dolors by hom gehad en betaal sodat hulle vir haar kon help en al haar wonde skoon maak.

Die mediese fonds het toe mense gestuur om te kom help. Nuwejaarsaand moes sy terug Suid-Afrika toe want Mark Shuttleworth het sy eie jet gestuur om die Suid-Afrikaners te kom haal. Daar was 7 Suid-Afrikaners wat moes terugvlieg.

Van die 106 mens in hulle hotel het net 6 oorleef en hulle was die enige couple wat dit oorleef het!

Haar ouers was ook toe reeds in Bangkok en sy sê dat sy nie wou gaan nie, want al haar familie was daar. Sy kry toe chirurgie in Suid-Afrika en hulle vlieg toe vir haar George toe want haar oupa en ouma was in Mosselbaai.

Daar het sy vir ’n week in kwarantyn gelê met ‘n virus en kieme wat sy opgetel het deur haar wonde.

Sy sluit af deur te sê dat sy die droom troue op die strand in gedagte gehad het,maar dat die Here goed oor jou pad bring wat moet gebeur al dink jy nie dan so nie. Die Here het vir haar gesê sy gaan ‘n pad stap met hom en mens nie eers moet wag voordat jy saamstap nie.

Leef elke dag soos jou laaste want jy weet nie wanneer ’n tsunami soos kanker oor jou pad kom nie. Maar die Here bring niks oor jou pad wat jy nie kan hanteer nie. God kom nou eerste in haar lewe!

Moenie wag vir die dag vanmôre nie, maak nou reg, bel nou die persoon en verander wat jy moet in jou lewe want mens weet nooit wanneer jou eie tsunami jou tref nie.

Malmesbury Advertising