Lesse wat net die lewe jou kan leer (18)

LESSE WAT NET DIE LEWE JOU KAN LEER (18)

GOD SORG

Die volgende stelling uit die mond van Dawid het hy nie in boeke gelees nie, maar hy sê hy het dit gesien. Ps. 37:25 – “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.” Daar was selfs nie ‘n enkele uitsondering nie!

Jou eie getuienis bly die beste getuienis. Verdra my dan asb. dat ek ietsie vertel uit my eie lewe. Benewens al die baie getuienisse wat ek kan opstapel van God se voorsiening deel ek die volgende:

Ons verlof breek aan en ek en vroutjie sit in die kombuis van die pastorie in ‘n vorige gemeente. Ek verduidelik vir haar dat ons nie geld het om vir ‘n tydjie weg te gaan nie. (Op uitnodiging van vriende op Alexanderbaai.) Hieroor is sy baie ongelukkig.

“Weet jy my man, ek is regtig moeg, ek het net my beste elke dag gegee. My liggaam smag om net ‘n bietjie te rus en net weg te kom. As ons vars en skerp volgende kwartaal moet inval, kan ons mos nie hier bly nie. Jy weet hoe gaan dit. Ons is lief vir mense, maar ons het die rus nodig. As ons hier bly, is al wat leef en beef hier op ons. Die telefone gaan nie ophou lui, net omdat jy bietjie moet rus nie.”

“My vrou daar is nie geld nie en ons kan nie weg gaan nie,” hou ek vol.

“My man, ons kan nie hier bly nie ...!”

‘n Klop aan die kombuisdeur onderbreek die gesprek tussen ons. Ons skrik, want ons stemtoon het so ietwat gestyg en sê nou net iemand het gehoor die pastoor en sy vrou het “rusie” gemaak!

Toe ek die deur oop maak staan daar ‘n persoon met ‘n koevert in die hand wat uitgehou word na my toe. “Ietsie, sodat julle kan weggaan om bietjie te rus,” is die eerste woorde wat die persoon sê en terselfdertyd omdraai en loop.

Asof versteen staan ek en my vrou daar en verwonder ons oor die Here se voorsiening ...

By die konferensie gronde te Pinkster Park is die nuwe kombuis die dag opgedra aan die Here met die gedenksteen waarop staan: “Die Here voorsien.” En ek onthou die woorde van oorlede past. Van der Bank: “Die Here het voorsien; die Here voorsien en die Here sal voorsien!”

GEBED

Dankie Here dat U nog altyd voorsien het, en U bronne kan nie opraak nie! Amen!

Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
Epos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in
te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. 

Unsubscribe

Malmesbury Advertising