SBN Junie 2013 - Margaret Hirsch

Die Swartlandse Besigheids Netwerk het Junie 2013 vir Margaret Hirsch van Hirsch’s as gasspreker gehad.  Te midde van die heerlike koue winterweer en Janno se knus kaggelvuur  het dit behoorlik in die restaurant gegons soos besigheidspersone vanuit die diep-stad, Wellington en plaaslike omgewing genetwerk en mekaar beter leer ken het. Interessante besigheids konneksies is gemaak en nuwe verhoudings is gebou. So hier en daar is daar selfs ‘n uitstekende besigheidsgeleentheid beding.

Margaret se praatjie was heerlik informeel en terwyl sy die storie van haar lewe vertel het, het sy so tussendeur die gehoor met kwinkslae en wyshede vanuit haar eie lewe en die besigheidswêreld vermaak. Die kerngedagte van haar praatjie was dat ‘allles moontlik is indien jy wel bereid is om aan te hou ten spyte van ‘dinge wat gebeur’. ‘n Mens moet nooit opgee nie en al gebeur wat ookal met jou, moet jy jouself weer kan ‘optel’ en voortgaan.

Margaret is in die voormalige Rhodesie gebore en het as klein dogtertjie saam met haar ouers na Suid Afrika geimmigreer. Haar pa is vroeg dood en haar ma, wat nooit regtig gewerk het nie, moes vir hulle sorg. Dit het baie swaar gegaan en uiteindelik moes sy die kinders vir pleegsorg opgee.

Margaret het werklik arm grootgeword, maar van vroeg af besluit dat sy nie gaan toelaat dat dit haar gaan onderkry nie en dat dit verseker nie gaan bepaal wie en wat  sy is of word nie.  ‘n Mens moet besef, mense gaan jou seermaak en goor wees, maar dit is nooit ‘n verskoning om op te gee nie.

Sy het vertel hoe sy en haar man, Allan gekom het waar hulle vandag is. Dinge het verseker nie sommer net vanself gebeur nie. Hulle het ‘n lang en harde pad geloop om te kom waar hulle vandag is. Allan is disleksies en is ook op skool vertel dat hy verstandelik gestrem is en nooit iets in die lewe sal word nie. Toe Margaret met hom getroud is, kon hy nie eens behoorlik lees en skryf nie. Sy het hom  binne drie maande leer lees en skryf.

Op ‘n stadium is sy by haar werk ontslaan omdat sy swanger geraak het. Volgens haar was dit die beste guns wat hul haar kon bewys het. Sy en Allan het van daar af stadig maar seker begin om hulle besigheid te bou. En, soos sy dit stel,”moenie jou bekommer oor wat ander mense doen nie, fokus op jouself. Vergeet van diegene wat daarop uit is om  jou af te trek of jou niks gun nie”.Soos sy dit heel pittig gestel het “CRAP” will come. En hierdie akroniem staan vir Crisitism, Rejection, Arsholes of Adversity,  en Pressure.

 Moenie dat dit jou onderkry nie.  Hou jou fokus altyd op jou doel en wees veral baie versigtig oor wat jy in jou gedagtes toelaat. Onthou jou woorde bepaal jou toekoms. As jy die heeltyd gedagtes het oor hoe bekommerd jy is oor dinge, word dit ook die woorde wat jy gedurig opper en….. jy kry presies dit wat jy spreek.

Draai liewers daardie negatiewe gedagtes om. Haar eie teenvoeter vir hierdie probleem in haar eie  lewe is dat sy permanent ‘n rekkertjie om haar pols dra en elke keer as sy ‘n negatiewe of slegte gedagte het, trek sy die rekkertjie en skiet haar pols. Omdat dit een van jou are raakskiet, is dit glo lekker seer. En sodra sy op daardie oomblik die pyn ervaar, draai sy haar gedagtes om en dink ‘n nuwe positiwe gedagte uit.

Sy het baie klem gelê op die feit dat ‘n mens net moet aanhou. En die crux van die saak is dat dit een treetjie op ‘n slag is.   Vir haar is dit belangrik om doelwitte te hê en hulle moet uitgeskryf word. Sy lees elke oggend deur haar doelwitte en maak seker dat sy daarop fokus en presies weet waarheen sy oppad is en wat sy nog wil bereik en teen wanneer.

Sy het afgesluit deur te sê dat Suid Afrika ‘n land van geweldige oorvloed is en dat dit binne elke Suid Afrikaner se mag is om dit te benut en te maak werk. En hoewel geld soos suurstof is en geen mens daarsonder kan voortbestaan nie, kan elkeen wel sy kant bring en‘n bydrae lewer om mense te help om uit hul armoede te kom. Ons moet egter self daarteen waak om nie ‘n armlastige te word nie.

Margaret was Suid Afrika se Besigheidsvrou van die jaar in 2012 en gebruik tans hierdie platform om, deur die  vertel van hul sukesverhaal, aan doodgewone mense te sê dat enige een dit kan regkry om suksesvol te wees.

Sy wil mense juis aanpor om uit hul wegspringblokke te spring en aan die gang te kom. Vrouens wat hul eie besighede begin het en miskien sukkel om aan die gang te kom, wil sy motiveer deur hul te bemoedig om nooit moed  op te gee nie en aan te hou  deur altyd voorwaarts en opwaarts te gaan.

Haar grootste missie is om doodgewone mense so te inspireer dat hulle sal besef dat ‘n mens nie hoef te bly waar jy is nie, maar dat jy enige iets kan kry wat jy graag wil hê mits jy bereid is om daardie droom na te jaag en daarvoor te werk. 

Malmesbury Advertising