Jannie Mouton deel sy kennis by die SBN

Jannie Mouton het vanoggend 7 Augustus die Swartland Besigheids Netwerk (SBN) kom toespreek oor sy lewe en wat mens kan doen as jy jouself in dieselfde bootjie bevind as wat hy was toe hy afgedank was deur sy vennote.

So wat maak mens as jy afgedank word? Die eerste en belangrikste ding wat jy moet doen, is om elke oggend op te staan, te stort en vir jou aantrek. Rig vir jou êrens ’n kantoor in waarna jy kan gaan al is dit in jou eie huis.

Tweedens moet jy vir jou ’n klankbord kry met wie jy kan gesels oor jou situasie en die planne wat jy kan maak. In Jannie se geval was dit sy vrou met wie hy gesels het. Evalueer en formuleer jou situasie.

Verder sê hy moet jy lees. Lees soveel jy kan. Lees boeke oor suksesvolle mense en geen negatiewe boeke nie. Terwyl jy lees moet jy neerskryf wat die mense in hulle boeke vir jou leer en opsommings maak daaroor. Jy moet swot om suksesvol te wees en wat jy kan doen om uit jou situasie uit te kom. Jy het mos nou tyd daarvoor!

Maak ’n lys van jou sterk en swak punte sodat jy jouself kan verstaan. Dit sal jou help om na die regte geleenthede te kyk wat beskikbaar is en wat vir jou sal werk. Dalk is jou sterk punte anders as wat jy in jou vorige werk gebruik het.

Werk vir jou ’n toekomsplan uit en skryf dit neer. Dink aan jou droom en skryf dit neer. Wanneer mens iets neerskryf, al is dit ’n droom, begin dit ’n werklikheid te word wanneer jy dit op papier sien.

Omring jou met kennis volle mense. Dit mag moeilik wees as jy by die huis is en nie werk het nie, maar ek dink dit val terug by die punt van lees. So as jy jou nie kan omring met die mense nie, kan jy nog steeds jou omring deur hulle boeke te lees.

Sodra jy weet wat jy wil doen, moet jy dit dadelik implementeer en nie wag nie. Praat met die mense rondom jou oor jou planne. Gesels met jou familie daaroor en kry hulle aan boord want jy moet jou produk of diens kan verkoop. Inspireer mense om te glo in jou en jou nuwe rigting.

Begin vandag en moet nie wag nie.

Verder het Jannie ook so paar goed gesê vir besighede en wat hulle kan doen om te groei. Kliënte is jou besigheid, sonder kliënte het jy nie ’n besigheid nie. Stel belang in jou kliënte en kommunikeer opreg met hulle en maak hulle gelukkig.

Vertrou goeie werknemers en plaas hulle in posisies waar hulle jou kan help groei deur vir hulle vryheid te gee om ’n bydra te maak.

Suksesvolle besighede is nooit ’n las op die gemeenskap. Ploeg terug en betaal jou belasting.

Daar is baie geleenthede waar ons nie normaalweg kyk nie. Kyk in die swart gemeenskap en in townships en jy sal verbaas wees wat jy kan leer as besigheid en oor jouself.

In moeilike tye is daar altyd geleenthede. Soek die geleenthede en kyk uit daarvoor. Afrika het nog baie potensiaal om te groei maar die risiko is hoog, so beplan net mooi.

In slotsom wat ek vir myself gekry het in sy geselsie is om leer, te lees, te beplan en als neer te skryf. Dit is die eerste stap om jou droom te verwesenlik.

Malmesbury Advertising