10 Gebooie vir netwerk geleenthede

BEPLAN JOU NETWERK GELEENTHEDE

Het jy geweet dat dit nogal ‘n kuns is om suksesvol te ‘netwerk’. Baie mense daag net by netwerkgeleenthede op en hoop om munt te slaan uit die geleentheid. So ‘n benadering kan jou duur te staan kom. Al wat jy reggekry het, was om vir jou brekfis te betaal, lekker met ‘n paar mense te kuier en …..verder ‘niks’.

Om hierdie byeenkomste vir jou te laat werk, beteken dat jy vooraf moet besluit wat jy daarmee wil bereik.  Stel vir jouself ‘n paar doelwitte op en dink na oor jou uitkomste en dink dan hoe jy dit gaan aanpak.

1.      MAAK SEKER DAT JOU BEMARKING GERIG IS OP ‘N “GEPASTE TEIKENMARK’.

  • Ons is dikwels geneig om sommer enige iemand wat ons teëkom te wil bydam met dit wat ons bemark. Jy kan jouself baie tyd en moeite spaar deur op mense te fokus wat reeds in die lyn van dit wat jy bemark beweeg.  Basies beteken dit dat jy fokus op mense wat in jou ‘produk’ sal belangstel - hierdie persone is reeds ryp vir die pluk. Byvoorbeeld, as ek visnette verkoop, gaan ek nie my nette aan iemand wat nie visvang probeer bemark nie.

2.      VIND UIT OF DIT ‘N SOSIALE OF GESTRUKTUREERDE BYEENKOMS IS

  • ‘n Meer sosiale netwerk geleentheid bied aan jou die geleentheid om jouself eerder te bemark. Laat die mense toe om jou te leer ken. Onthou ons doen besigheid met mense en nie met besighede nie. Hoe meer gemaklik iemand dus met jou is, hoe beter die kanse dat hulle jou met hul besigheid sal vertrou.
  • Gestruktureerde netwerk byeenkomste  behels dat jy jouself asook jou besigheid aan potensiele vennote bekendstel. Konsentreer bv. eerder daar op om een persoon in ‘n groep te ontdek wat jou kan help om ‘n kliëntebasis op te bou. As jy byvoorbeeld in die bankwese is, mik daarna om met ‘n eiendomsagent kontakte te bou.

3.      MAAK SEKER DAT JY WEET WAT VAN JOU VERWAG WORD.

  • Wees voorbereid wanneer jy by ‘n byeenkoms opdaag. Indien jy kontant moet betaal, wees gereed met die korrekte bedrag. Daag betyds op. Wees korrek geklee. Klee jou met die ingesteldheid om ’n goeie eerste indruk skep.   Maak seker dat jy jou besigheidskaartjies gereed het.
  • Moet nooit  agter die verskoning van ‘ek het nie tyd’ skuil  nie. Niemand het regtig tyd nie, maar indien jy deel wil wees van so ‘n byeenkoms, moet jy juis bereid wees om die ekstra myl te loop.

4.      WEES ALTYD GEREED OM JOUSELF BEKEND TE STEL

  • Dit is bv. ‘n goeie idee om nooit alleen by so ‘n geleentheid op te daag nie. Reël met ‘n gewillige vriend of venoot om mense in die vertrek van jou bewus te maak. Maak jy weer ‘n punt daarvan om mense van hom/haar bewus te maak. (So was die een hand die ander hand).
  • Praat duidelik genoeg sodat enige iemand wat dalk binne hoorafstand verbyloop kan hoor wat gesê word (binne perke natuurlik). Jy wil ook nou nie aanstoot gee nie, maar praat darem hard genoeg sodat dit as ‘n ‘oop gesprek’ ervaar kan word en ‘n verbyganger kan voel hy/sy is welkom om deel van die gesprek te word.  En……moenie vergeet om so nou en dan te lag en te glimlag nie. So gaan jy verseker ook meer mense na jou toe aantrek.

5.      WEES ALTYD GEREED OM EEN VAN DIE VOLGENDE DRIE BEKENDSTELLINGS TE KAN DOEN

  • Van aangesig tot aangesig– dit is wanneer jy jouself aan iemand voorstel en gevra word ‘wat jy doen’. Probeer om nie soos ‘n grammofoon af te gaan en jou ‘advertensie’ af te rammel nie.  Wees kreatief en oorspronklik. Stel jouself so bekend dat dit hul prikkel om meer te wil hoor. Bv. “My besigheid is om jou besigheid meer sigbaar te maak”.
  • Jou ‘elevator pitch’ (blits bekendstelling???) – Jou storie moet slegs ‘n paar kort sinne met ‘n bietjie detail bevat en kan selfs met ‘n vraag eindig.  Voorbeeld:  “My besigheid is om jou besigheid sigbaar te maak met behulp van ‘n verskeidenheid middels in die mark. Het jy dalk ‘n idee van enige besigheidseienaar wat daarmee sukkel dat kliente hul afsprake nakom”?
  • Voorlegging – Moenie jou gehoor oorweldig met alles waarby jy betrokke is nie. Behou die aandag deur die lig op een van jul fokusareas te laat val .  Fokus bv. op ‘n nuwe produk, diens of selfs een teikengroep.

6.      MOENIE JOU PRODUK ONMIDDELLIK AAN ‘N POTENSIëLE KLIëNT PROBEER ‘VERKOOP’ NIE

  • Neem jou tyd om potensiële netwerke te bou.

7.      INDIEN JY IEMAND MET ‘N PERSOON IN AANRAKING WIL BRING (VERWYSINGS MAAK), MAAK SEKER DAT JY HUL VOORAF IN KENNIS STEL

  • Mense haat dit as hulle name sonder hul toestemming uitgedeel word en hul dan moet sukkel om van die sg. agent ontslae te raak.
  • Laat weet hul liewers vooraf deur middel van  ‘n epos, sms of telefoon.  Vra eerder toestemming om hul naam aan iemand te gee; jy wil nie jou eie brue verbrand nie.

8.      MAAK SEKER DAT JY ‘N BEHOORLIKE OPVOLGPLAN HET

  • Maak na die tyd weer kontak met ‘n nuwe kontak om ‘dankie’ te sê en te noem ‘hoe bly jy is dat jul ontmoet het’. Doen dit binne 48 uur. Sosiale media is ‘n uitstekende manier om hiervoor te gebruik.
  • Maak seker dat jou besigheidskaartjie ‘n foto’tjie van jou op het.  Dit verhoog die kans dat hul jou gaan onthou met 80%.
  • Vra altyd toestemming of jy jou nuwe kontak op jou databasis mag plaas.
  • Om hul een of twee keer per maand te kontak, is heel voldoende. Pasop vir ‘oordoen’.

9.      BIED ‘N VOORBEELD (SAMPLE) VAN JOU PRODUK OF    DIENS

  • Laat hulle toe om te proe, sien en voel. Dit maak jou produk soveel meer ‘werklik’.
  • Lig hulle in en voed hul op.

10.    GENIET DIE ERVARING EN WYS JOU ENTOESIASME!

  • Gesindheid is aansteeklik en mense voel aangetrokke tot iemand wat positiewe energie uitstraal. 

Malmesbury Advertising